Henk Lochner en sy vrou, Dalene. Foto: Verskaf


Henk Lochner (82) het diep spore in die gange van die Hugenote Hoërskool in Wellington getrap – beide as ’n leerder en ’n alumnus nadat hy in 1958 gematrikuleer het.

Dié geliefde Blackie, soos leerders en alumni van Hugenote Hoërskool bekendstaan, is op 25 September oorlede en word onthou deur sy naastes asook die breër Blackie-skoolgemeenskap.

Volgens Dico du Toit, voorsitter van Hugenote-ondersteunersbond, is Lochner ná sy studiejare as onderwyser eers by die Hoërskool Swartland aangestel. Nietemin, het sy alma mater het hom na aan die hart gelê, waarna hy sy pad teruggevind het tot by Hugenote as Engels-onderwyser in 1977 tot omstreeks 2005 met sy aftrede.

“[Henk] was [ook] betrokke by krieket- en rugby-afrigting van die skool, [en] Hugenote se derde rugbyspan word vandag nog die Pigeons genoem,” het Du Toit gesê.

Volgens Du Toit het Lochner ’n groot liefde gehad vir vliegduiwe, vandaar sy bynaam, “Henk Duif”.

In sy jong dae het Henk ook as vleuel vir die Boland Seniors-rugbyspan uitgedraf.

Lochner was ook alom bekend vir sy rol in die totstandkoming van die interskole-ooreenkoms tussen Hugenote en die Hoërskool Swartland in Malmesbury omdat hy by albei skole skoolgehou het en deur sy onderwysloopbaan ’n verhouding met beide Hugenote en Swartland kon bou.

Lochner is kort voor sy afsterwe ook as eregas uitgenooi by Hugenote en Swartland se 50ste interskole, waar hy 50 van sy vliegduiwe vrygelaat het.

Du Toit beskryf dié geliefde Blackie as ’n “lojale Wellingtonner en uitstaande onderwyser en sportafrigter wat ’n hart vir kinders gehad het”.

Hy was uiters gewild onder sy tydgenote en leerders [en] in kort – ’n regte legende vir die wat met hom te doen gehad het.
Dico du Toit

“Hy was uiters gewild onder sy tydgenote en leerders [en] in kort – ’n regte legende vir die wat met hom te doen gehad het.”

Lochner word oorleef deur sy vrou, Dalene, asook hul vyf kinders, Mardine, Kathleen, Madelein, Henk en Deoné, wat ook almal aan Hugenote gematrikuleer het. Hugenote Hoërskool het ook hul medelye op hul Facebook-blad uitgespreek:

“Vandag neem ons afskeid van ’n legende, Oom Henk Lochner.”

“Ons was bevoorreg om hom en sy vrou as eregaste by interskole 2024 te hê. Oom Henk was instrumenteel in die totstandkoming van die interskole-tradisie wat in 1975 tussen Hugenote en Swartland begin is.”

“Hy was tussen 1977 en 2005 aan Hugenote verbonde en sal altyd as een van die mees gerespekteerde onderwysers onthou word.”

Lochner se begrafnis vind môre (5 Oktober) om 14:00 in die NG Moedergemeente in Wellington plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article