Ek het in die stad grootgeword en het daar gewoond geraak aan ondernemings wat deur die week en naweek oop is en gereed is om sake te doen.
Vanweë die bekoring van die plattelandse lewe het ons besluit om Wellington toe te verhuis, want deesdae kan ’n mens mos van enige plek af werk. Ek mis dit só om oor ’n naweek, veral ’n Saterdag, die strate in te vaar, inkopies te doen en die middag iewers interessants te gaan eet. Ongelukkig is amper elke eetplek Saterdae van 13:00 af toe. Dan wonder ek of die ondernemings regtig so swaar kry soos wat hulle op die radio sê? Sal hulle nie eerder dié geleentheid wou gebruik om geld te maak nie? Ek verstaan daar is baie sake-eienaars wat self in hul winkels werk en ook graag wil naweek hou. Kan hulle nie iemand aanstel om die pot aan die kook te hou oor ’n naweek nie? Dan verlig dit ook die werkloosheid. Of is klein-dorpie-mense eenvoudig gewoond aan dié manier van doen?
Hoe dit ook al sy, hiermee pleit ek dat Wellington se ondernemings net ’n uur of twee langer oop bly op ’n Saterdag, want ek wil spend.




