Ek lees dikwels in Paarl Postdie klaagliedere uit die gemeenskap oor allerlei dingetjies in hul gemeenskap wat volgens hulle nie na omgesien word nie. Ja, ons munisipaliteit is nie perfek nie, maar het wel ook baie goeie eienskappe wanneer dit by dienslewering kom.

Iets wat my wel erg onthuts laat, is die manier waarop ons gemeenskappe net rondsit asof hulle afgekapte hande het en nie bereid is om ’n vinger te verroer om self hul omgewing ’n bietjie mooi te maak nie.

Daar is wel gemeenskappe wat nie op hulle laat wag vir die munisipaliteit om op te tree nie. Vanweë trots vir hul buurt maak hulle hul eie sypaadjies skoon van onkruid, blare en dies meer; doen selfs die moeite om hier plante of bome aan te bring vir almal se plesier.

Dan is daar gemeenskappe waar openbare parke is en die munisipaliteit het net soveel personeel om slegs nou en dan die gras te kan sny.

Hier is ook twee voorbeelde van denke – in party gebiede sal die gemeenskap self inspring en hul grassnyers inspan en sny, en selfs verder verfraai, terwyl in ander gemeenskappe net weer ’n aanhoudende gekla en vinger gewys word sonder om ’n vinger te lig.

Daar is selfs in Jan van Riebeeckrylaan by Mbekweni ’n lieflike stuk sypad waar inwoners allerlei plante daar aangeplant en dit verfraai het – trots op die bietjie wat hulle het.

Ry by Langenhovenweg verby die krieketstadion en by die munisipale woonstelle is daar ook enkeles wat die tuine daar mooi verfraai – dit ten spyte van hul bure wat rommel stort.

Dit laat my wonder hoekom ons gemeenskapstuin verdwyn het. Dit kan immers ’n goeie projek wees om lappies grond vry te stel aan individue om groente te kweek en nie net hulself te voed nie, maar ook trots te kweek in wat hulle doen en sodoende ook die jongelinge hieroor te leer.

Ek dink ons moet na die groter prentjie kyk en besef dit is nie net ons eie beursie wat in die huidige ekonomiese krisis leeg is nie, maar die munisipaliteit sukkel ook om voor te bly. Ons moet dus self die moue oprol en toesien dat ons gebied ’n plek is waar ons wil woon.


Jan Paulse,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article