Die nuus van die nuwe aansteeklike variant van die koronavirus is nogal baie kommerwekkend vir my.

Ek dink nie ons land se ekonomie sal die terugkeer van die virus oorleef as ons weer ingeperk moet word nie; nog minder sal my geestesgesondheid die knou kan hanteer.

Ons kan seker nie van die virus af weghardloop nie, want dit is duidelik hier om te bly. Wat ons wel kan doen, is om versigtig te wees en mekaar se gesondheid in ag te neem.

Ek is heeltemal oukei met die idee as iemand nie ’n masker wil dra nie. Glo my, daai goed slaan my asem ook weg. Maar ek verwag ten minste dat ons mekaar se persoonlike ruimte respekteer en ’n klein bietjie afstand hou as ons by ’n betaalpunt in die winkel in die ry staan.

Selfs voordat die pandemie kop uitgesteek het, lyk dit of ek uit my vel kan spring as ek voel iemand agter my se asem in my nek blaas.

Die nuwe koronavirus-variant is glo veel aansteekliker as die voriges. So, groot asseblief, mense, kom ons hou ons afstand. En as ons nie ons eie gesondheid in ag neem nie, dink ten minste aan ander mense s’n.


Dorathea,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article