As motoris wat daagliks op plaaslike paaie ry en soggens ook maar drie keer moet kyk of daar nie ’n taxi van nêrens voor my gaan indruk nie, verstaan ek die klagtes en ook die gevaar wat hulle vir padgebruikers inhou.
Ek het twee weke gelede – en ook verlede Vrydagoggend voor werk – die padblokkades wat spesifiek op taxi’s gemik is, in Jan van Riebeeck-weg gesien. Ek is nie gekant daarteen dat padblokkades gehou word nie, maar aangesien ek self haastig op pad is om my kinders by die skool af te laai en daarna vroeg by my werkplek moet kom, kan ek nie help om jammer te voel vir die pendelaars wat waarskynlik laat gaan wees vir werk nie. Ek hoop hul werkgewers verstaan hul situasie.
So, ek wonder toe hoekom hierdie padblokkades nie deur die loop van die dag kan geskied nie? Dit is mos glad nie die geval dat die taxi’s slegs soggens voor 08:00 op daardie roete ry nie. Hulle ry heeldag daardie roete. Beboet hulle liewers elke keer wanneer daar oor die rooi verkeersligte gery word of hulle voor motors indruk. Deurlopende sigbaarheid en optredes teenoor mense wat nie die padreëls gehoorsaam nie, is waarvoor inwoners jaar in en jaar uit vra.




