Die Scheepers-gesin was vroeg verlede maand deel van ’n groep inwoners wat buite die Paarl-hospitaal betoog het. Foto: Rasaad Adams


Die Paarl-hospitaal en Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het ’n beroep op die Scheepers-gesin van die Paarl gedoen om met die hospitaal se bestuur te vergader vir duidelikheid oor die dood van hul seun, Majahid Scheepers (24), in Mei verlede jaar.

Dié gesin was deel van ’n groep inwoners wat vroeg verlede maand buite die hospitaal oor die gehalte van dienslewering betoog het.

Paarl Post het op 11 Julie berig dat die gesin antwoorde eis nadat hulle aanvanklik vermoed het – en nou doodseker is – dat hul seun die verkeerde medikasie en behandeling by die TC Newman-kliniek en Paarl-hospitaal ontvang het.

Dit is volgens sy ma, Juwariyha Scheepers, wat verlede maand aan Paarl Post gesê het haar seun is op 20 Mei verlede jaar vermoedelik weens ’n oordosis van die medikasie oorlede.

Volgens haar moes Majahid ’n neurologiese spesialis besoek, maar toe het hy slegs medikasie vir sy simptome by die TC Newman-kliniek in Paarl-Oos ontvang.

Sy sê weens vermoedelik ’n oordosis van hierdie medikasie moes hulle hom vir verdere behandeling na die Paarl-hospitaal neem.

“Hierdie verkeerde medikasie het veroorsaak dat my kind tardive dyskinesia gekry het. ’n Suster by die kliniek het dit persoonlik aan my bevestig. Ons het die siekte gaan Google en dit is presies wat met my kind gebeur het.”

In Mei alleen verlede jaar was die gesin glo meer as 17 keer met Majahid by die hospitaal.

Die Paarl-hospitaal het hom volgens haar ook gereelde inspuitings gegee wat bedoel was om hom te “kalmeer”.

Volgens die gesin het Majahid se longe “platgeval” – wat glo weens die medikasie en inspuitings veroorsaak is.

“My kind se longe is vernietig. Hulle het gesê hy moet liewer vir dwelms getoets word.

“Ek het my kind geken – hy het nie dwelms gebruik nie.”

Majahid Scheepers is in Mei verlede jaar op 24-jar

Majahid Scheepers is in Mei verlede jaar op 24-jarige ouderdom in die Paarl-hospitaal dood. Foto: Verskaf

Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het intussen aan Paarl Post gesê die bewerings dat Majahid die verkeerde behandeling ontvang het, is ongegrond.

Sy het wel erken dat die medikasie newe-effekte inhou.

“Majahid was ’n gereëlde pasiënt by TC Newman-kliniek en Paarl Hospitaal. Ons kan bevestig dat Majahid die regte behandeling vir sy toestand ontvang het.

“Waar nodig is hy ook vir verdere toetse verwys en spesialiste is geraadpleeg as deel van sy behandelingsplan.

“Die medikasie wat Majahid as deel van sy behandeling gebruik het, kan soms tot onwillekeurige en onbeheerbare rukbewegings lei. Ons mediese personeel het aan Majahid en sy ouers verduidelik dit kan gebeur. Hy is as gevolg hiervan van TC Newman na die Paarl-hospitaal verwys.”

Sy sê die medikasie wat moontlik tot die rukbewegings kon aanleiding gegee het, is dadelik gestaak, maar die rukbewegings het voortgeduur.

Majahid is toe daarna na ’n neuroloog by die Tygerberg-hospitaal verwys en sy medikasie is aangepas, het Maritz verduidelik.

“Die onwillekeurige bewegings het egter steeds voortgeduur.

“Majahid het op 20 Mei 2023 by die Paarl-hospitaal se ongevalle-afdeling aangemeld omdat hy kortasem was en koors gehad het. Hy is toepaslik vir sy infeksie behandel, maar het ongelukkig gesterf.”

Volgens Maritz was die departement teleurgesteld om te verneem dat die gesin nie duidelikheid oor hul seun se dood het nie.

“Ons nooi die familie om met ons by die Paarl-hospitaal te kom gesels. Ons sal graag die besonderhede oor Majahid se afsterwe met sy familie deel en hulle is welkom om na sy volledige mediese lêer te kyk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article