Die lewe is vol verrassings en watter beter manier om dit vir kinders te wys as in die teater.
Altesaam vyf kinderteaterproduksies word tussen 1 en 9 April by die 27ste KKNK aangebied, wat saam met hope ander aktiwiteite vir vermaak uit die boonste rakke vir die jongspan gaan sorg.
In Liewe Heksie vang vis keer die 2022 Kanna-bekroonde Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl terug, wanneer ons almal se geliefde Liewe Heksie haar besem inspan as ’n visstok, maar dit sukkel om die vis te laat byt. Die nare Geelheks en Koning Rosekrans maak ’n verskyning, Levinia beland in die moeilikheid en het die Blommeland-maats se hulp nodig.
Meyer-Rödenbeck sê kinderteater is haar gunsteling-genre en dat sy die interaksie met die kinders die heel meeste geniet. “Hul energie en entoesiasme is aansteeklik. Dis die verskil tussen kindervermaak op die televisie en in lewende lywe. Kinderteater gee ons weer kans om te lag en om pret te hê. Dit laat kinders ontvlug na ’n wonderwêreld van speel, waar daar nie reëls is nie en waar kreatiwiteit hoogty vier. Kinders se breine en gemoedere is so oop en kinderteater het ’n geweldige verantwoordelikheid om dit te voed,” sê sy.
“Dit is belangrik vir kinders om aan kinderteater blootgestel te word, omdat hulle ons teatergehore van môre is. Kinderteater ontwikkel kreatiwiteit en is ’n sensoriese ervaring waaraan hulle kan deelneem. In Liewe Heksie neem hulle aktief deel in die besluitneming tussen reg en verkeerd, wat bydra tot die ontwikkeling van kritiese denke.”
By Fliep-flappers ontmoet kinders die karakters van die kinderboek Storiekasteel in lewende lywe. Die woelige Fukani en Fungi is altyd op soek na ’n nuwe avontuur en die gehoor deel in al hul pret. Liena van der Merwe, wat saam met W.G. Venter en Robyn Frost op die verhoog te sien is, sê kinderteater verander kinders se lewe omdat dit al hul sintuie stimuleer. “Televisie en film is net ouditief en visueel, maar lewende teater prikkel hul verbeelding. Hulle kan interaktief deelneem en dié ervaring maak hulle soveel ryker vir eie kreatiwiteit.”
Twee hansworse uit 2052 vertel in Die dag toe Guppie sweef die storie van ’n grensposbewaarder, wat in die Republiek van die Kapok-boerevereniging bly. Dit is ’n veeltalige storie wat deur narrespel en fisieke komedie vertel word. Kerscha Titus en Robert Hindley deel die verhoog, met teks deur Onela Metuso.
Vir Titus is kinderteater se bydrae tot die wyse waarop kinders die wêreld rondom hulle sien en hoe hulle interaksie met ander rondom hulle het, die belangrikste deel daarvan.
Jakkalsdraaie – Die geveg, met Anoecha Kruger en Marelize Viljoen, is poppeteater, saamgestel rondom die fabels van Aesop. Die poppeteaterstuk bevat ’n verskeidenheid kleurvolle karakters.
In Ko’ laat o’s speel met Mikyall Harris, Nathaly Lottering en Kerscia Titus word gespeel met blikkies, stokkies, toue, poppe en balle. Volgens Harris stimuleer kinderteater kinders op kreatiewe maniere om ook hul persepsies te verander. “Kinders is nie net passiewe teatergangers nie, maar hulle speel en leer terselfdertyd. Teater is ’n veilige omgewing om hulle oor kwessies in die wêreld te leer en hoe hulle hierdie kwessies kan aanpak. Hulle leer ook verskillende maniere om hul emosies uit te druk, waaronder sang, dans, dialoog en gebare. Dit is baie waardevol in kinderontwikkeling,” sê Harris.
Saam met hierdie kinderteaterstukke bied vanjaar se KKNK-program ook talle ander opwindende doendinge vir kinders. In Gys die Volstruis kom kuier by KKNK leer Johnlene Scholtz en Karen Schoeman kinders interessante feite oor die Klein Karoo se diere, plante en bakens, soos vervat in Johnlene se boek Gys die Volstruis se avonture in die Klein Karoo.
Dit word opgevolg met ’n kunsaktiwiteit wat aansluit by die tema vir die dag.
Dineke van der Walt, visuele kunskurator, en die veelbekroonde Karoo Kaarte-span bied saam Loop Speel aan, ’n lekker werksessie waar tjokkers voorgestel word aan speletjies en saam met maatjies ook hul eie speletjies kan ontwikkel. Karoo Kaarte se splinternuwe fisieke teaterstuk, Droomkraan Kronieke, is perfek vir die hele gesin met poppe wat onder leiding van die internasionaal gerekende poppemeester Craig Leo gemaak is. Die span het ook ’n kinderstorieboek saamgestel en bied sessies aan waar hulle uit dié boek lees en daarna saam stories skryf. ’n Wye reeks kinderboeke is ook te koop by die Boekeparadys.
Kyk ook uit vir straatteater in Baron van Reedestraat, waar opwip-optredes kinders se asems gaan wegslaan.
As jou kind graag self wil optree en sy talente wil ontwikkel, skryf in vir die Con Spirito Kunswedstryd wat op 3 April plaasvind. Lees meer by www.conspirito.co.za.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by kknk.co.za en kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets of jou naaste Pick n Pay.
Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.





