’n Hond is deur ’n brandbestryder gered voordat ’n inwoner in die omgewing hom getroos het en hy met sy baas herenig is. Foto: Facebook/DFW


Honde word universeel gekoester omdat hulle “man’s best friend” is, maar dié brak se beste vriend was toe die vrywillige reddingswerkers van Drakenstein-plaaswag (DFW) wat sy lewe gered het.

DFW se bevelvoerder, Daan van Leeuwen Boomkamp, het oor die naweek op hul Facebook-blad melding gemaak van ’n strukturele brand in Rietbokstraat in Chicago, Paarl wat Sondag (16 April) omstreeks 04:30 aangemeld is.

Hy sê Manuel Farmer en R. Green, albei Fidelity ADT-beamptes aan diens, het ’n noodsein aan die Drakenstein-plaaswag (DFW) se brand- en reddingspanne oor die strukturele brand gestuur.

“Op die terrein het ’n kort inligtingsessie met Drakenstein-brandweer die DFW-vragmotor na die agterste gedeelte van die vlamme gelei, waar verskeie informele strukture aan die brand was,” vertel Daan.

Twee DFW-pype is uit die vragmotor getrek en die vlamme is bestry. Dit is gedurende dié bestryding dat ’n hond se tjank en hulpkreet duidelik hoorbaar was.

“My kopflitsie het eintlik so in die hond se ogies geskyn en gereflekteer dat ons hom op die ou end so gevind het! Nadat die heining en muur gesny is, is die dier na veiligheid gebring, terwyl ander brandweermanne die geveg teen die vlamme voortgesit het.”

Daan vertel die hond het gelukkig geen brandbeserings opgedoen nie en is deur een van die inwoners gekalmeer en getroos.

“Later is die eienaar, wat gedink het dat sy metgesel in die vlamme gesterf het, gevind en met die dier herenig,” sê Daan.

Hy meen daar is geen groter beloning vir brandbestryders as om in staat gestel te word om lewe en eiendom van ander te red en boonop geliefdes te herenig nie.

“Die bystand deur die plaaslike gemeenskap word, soos altyd, baie deur die vrywillige brandbestryders van die DFW-span waardeer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article