Green School Suid-Afrika is ’n internasionale skool, en die eerste skool in die vallei wat ’n internasionale kurrikulum in Afrikaans en Engels aanbied.
Dis ’n splinternuwe skool op ’n groen missie. Hier leer kinders méér as net akademie met die skool wat sterk klem lê op 21ste-eeuse vaardighede (soos kritiese denke, kommunikasie vaardighede, vermoë om in groepe te werk, ens) asook ’n stel waardes (insluitende integriteit, verantwoordelikheid en vertroue) wat die skool en skoolgemeenskap onderskryf.
Die skool het in Februarie 2021 oopgemaak op die Simondiumpad en bied tans van kindertuin tot graad 9 aan, met jaarlikse groei sodat matriek teen 2025 aangebied gaan word.
Die hoërskoolprogram volg ’n Amerikaanse onderwysmodel, en kinders wat hier matrikuleer, word geag ’n Amerikaanse matriek te hê.
Die skool se doel is om te leer vir volhoubaarheid en daardeur kinders voor te berei vir ’n baie ander toekoms. ’n Toekoms waar kreatiwiteit en innovasie kritiek gaan wees, ’n toekoms waar memorisering van feite nie noodwendig genoeg gaan wees om die uitdagings van ’n veranderende wêreld aan te spreek nie.
By hierdie skool is daar tyd en geleentheid vir kinders om hul identiteit te ondersoek en vorm, om hul eie passies en belangstellings in hul skoolwerk te verweef sodat leer relevant is. Nuuskierigheid word hoog op die prys gestel en debatte en gesprekke vind in alle klasse plaas. Die klem is om die kinders te help om die wêreld te verken en verstaan, om hulleself te verstaan eerder as om verouderde en irrelevante materiaal te moet memoriseer.
Die ouer klasse is klein, en elke kind speel ’n rol in die vorming van gebruike en tradisies. Klasmaats leer mekaar en hul onderwysers baie goed ken, en elke kind se individualiteit word geniet en waardeer, elke kind word raakgesien en verantwoordelik gehou.
Die beurse wat aangebied word is gedeeltelike beurse en ouers bly verantwoordelik vir sekere uitgawes.
Vir meer inligting oor die skool, die beurse asook die aansoekproses, besoek hulle webtuiste by www.greenschoolsa.co.za of kontak die skool by admin@greenschoolsa.co.za.




