Ons as sake-eienaars rondom die parkeerterrein het nou al alles probeer – van die munisipaliteit tot by Game en die mense verantwoordelik vir die skoonmaak van hierdie terrein – sonder enige positiewe terugvoer.
Die storting van vullis asook die uitkamp van hawelose mense wat dan die agterkant van Game as hul slaapplek asook hul toiletgeriewe gebruik en al hul gemors net so los, is nie net onooglik nie, maar ook onhigiënies, om die minste te sê. As die wind opsteek, waai die gemors die hele Paarl vol, om nie te praat van die onkruid wat nooit uitgehaal word nie – en dit in ’n parkeerterrein!
Game het nog nie een dag die verantwoordelikheid op hulle geneem om iets aan die situasie te doen nie, aangesien hulle beweer daar is ’n kontrakteur wat hiervoor verantwoordelik is in die middedorp. Volgens hulle is ’n plaaslike middedorp-eiendomsbestuur-groep daarvoor verantwoordelik om toe te sien dat die gebied skoon gehou word.
Game maak wel hul perseel aan die voorkant skoon, maar nie aan die agterkant nie.
’n Bekende en gewilde tandartspraktyk is reg aan die oorkant, en as hulle deur hul vensters kyk, aanskou hulle die gemors. Hier word met pasiënte gewerk, wat ook nie gelukkig is om hier te moet kom stilhou en in die vullis vas te kyk nie.
Vrydagmiddae word hier gedrink en geraas, en die veiligheidsmense kan ook net soveel doen. Die wetstoepassers kom uit, stop, praat met die mense en ry weer. Die polisie kom glad nie eens meer uit nie. Naweke word die Knopiesfabriek-kantore se geute, lugversorgingspype ens. gesteel en geplunder, en ons moet dit op ’n Maandag ten duurste laat vervang. Ek hoop regtig iets sal hieruit kom, sodat ons ons pragtige dorp skoon en ons naam hoog kan hou.




