Ek wil graag ’n baie belangrike vraag vra en verwag ’n antwoord op die vraag!

Ek het Maandagaand om en by 21:00 van Wheelspot by die ou Spilo, hoek van Jan van Riebeeckrylaan en Oosboschstraat, in die rigting van die Hugenote-gemeenskapsaal gery.

In daardie hele afstand was nie een straatlig aan tot by die gemeenskapsaal nie.

Ek het verder gery om te gaan kyk wat in Hoofstraat aangaan en het gesien dat al die straatligte van die stadsaal in die rigting Noorder-Paarl aan was.

Ek het weer in Lady Greystraat afgery en opgelet dat daar geen straatlig aan was van die Hugenote-treinbrug en die Hugenote-verbypad weer tot by Wheelspot, of soos ons ken, Spilo, nie.

Ons mense wat laat werk en op daardie donker paaie moet voetslaan of daardie paaie op hul fietse moet aandurf om by die huis te kom, is mos in gevaar in daai donkerte.

Hoekom kan daar aan die een kant van die dorp lig wees en aan die ander kant moet mense in donkerte oor die weg kom? Watse onenigheid is dit dan?

Drakenstein-munisipaliteit, moenie probeer vis en vleis maak in ons dorp nie.

Ons leef nie met toe oë hier nie en sien wat hier aangaan.

Daar is niemand wat in Hoofstraat voetslaan om by hul woning uit te kom nie, want almal aan daardie kant van die dorp het voertuie en is buite gevaar.

Aan hierdie kant moet ons in die donker die kans waag om van die werk af by ons gesinne uit te kom.

Kan ons mense ’n antwoord op die klagte kry, asseblief?


Bekommerde Paarliet,

Paarl

Marius Wüst, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit: Ek kan die skrywer verseker dat geen eensydige besluite oor straatligte se aan- of afskakel deur die Drakenstein-munisipaliteit geneem word nie. Die munisipalieit en die Drakenstein-area gaan egter gebuk onder erge, deurlopende vandalisme en diefstal van elektriese kabels. In hierdie geval was dit aanvanklik ’n geval van kabels wat plek-plek gesteel en meer as een keer deur die munisipaliteit vervang is. Daarna is die bedrading binne die pale heeltemal deur misdadigers verwyder en moes die munisipaliteit dit ook verskeie kere herstel. Nou is dit ’n geval van die interne bedrading wat verwyder is, al die kabels wat gesteel is en van die infrastruktuur wat ook beskadig is.Hierdie aanhoudende vandalisme en voorvalle van koperdiefstal beteken die munisipale begroting wat vir gewone instandhouding toegewys is, moet nou aan herstel- en vervangingswerk bestee word. Die munisipaliteit doen weer eens ’n beroep op ons gemeenskap om ons te help om munisipale infrastruktuur teen hierdie booswigte te beskerm. Die munisipaliteit bied ’n beloning van tot R5 000 aan vir enigeen wat geloofwaardige inligting verskaf wat tot die suksesvolle inhegtenisneming en skuldigbevinding van verdagtes wat betrokke is by enige strafregtelike oortreding teen die munisipaliteit kan lei.Meld enige verdagte optrede by 021 807 8508 (alle ure) aan of by die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Anonieme wenke kan aan die munisipaliteit gegee word by 021 807 8508 of 080 131 3553 (tolvry).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article