Eskom kla oor ons elektrisiteitsverbruik en pleit letterlik heeldag dat ons nie krag moet mors nie. Dit is duidelik dat die boodskap nie die Drakenstein-munisipaliteit se ore bereik het nie.
Beurtkrag is nou al vir ’n paar dae opgeskort, maar die munisipaliteit gebruik die kans om druk te sit op die kragstelsel. Die straatligte hier in Paarl-Oos brand konstant vir meer as vier dae nou al – dag en nag. En dan word ons as inwoners geslaan met hoë kragrekeninge.
Drakenstein, vir wat brand die straatligte so deur die dag? Dit is heeltemal onnodig. Ons as inwoners probeer so veel as moontlik om krag te bespaar, maar kyk wat doen julle. Dit is geen goeie voorbeeld vir ’n “Stad van uitnemendheid” nie. Julle behoort julle te skaam!




