Die groot vraag wat ek wil vra, is wie bestuur werklik die Drakenstein-munisipaliteit, en met watter bevoegdheid?
As ons kyk na die direkteur vir gemeenskapsdienste en die hoof vir wetstoepassing behoort hulle aan dieselfde kerk, so ook vele ander wat daar in die munisipaliteit werk. Gaan kyk na hul CV’s en hulle maak dit daarop baie duidelik dat hulle almal aan dieselfde kerkgroep behoort.
Voor die nuwe direkteur vir veiligheid aangestel is, is die hoof van wetstoepassing deur die direkteur van gemeenskapsdienste aangestel. Baie ander kandidate wat in Drakenstein woon – en met die nodige bevoegdheid – het aansoek gedoen, maar is as gevolg van hul geloof oorgesien.
In ’n vorige berig in die Paarl Post vra Daan van Leeuwen-Boomkamp van die Drakenstein-plaaswag baie vrae en noem ook baie dinge, waarvan alles goeie vrae is, en ’n mens kan sê die waarheid is.
Want by rampbestuur is dit werklik deesdae ’n ramp!
Dan woon baie van die bestuurders nie eens in Drakenstein. Moet hulle nie eerstehands weet wat gaan in die vallei aan nie?
In vergelyking met die munisipaliteite soos Stellenbosch en Kaapstad is Drakenstein as secondary city, maar baie agter wat toerusting, opleiding, die gebruik van tegnologie, ’n sentrale beheerkamer met tegnologie, installering van CCTV-kameras en rampbestuur betref.
Baie min geleenthedeword ook geskep vir jongmense om by die munisipaliteit te werk nie. As dit wel gebeur, is geleenthede baie weinig. Byvoorbeeld, hoe lank is die EPWP-wetstoepassingsprogram en hoe bied dit ’n vaste salaris/inkomste vir iemand? Hoe is dit ’n langtermyn-oplossing vir werkloosheid en veiligheid in Drakenstein? Of is dit net ’n rookskerm vir die DA om te probeer wys dat Drakenstein tydelike werk skep?
Ek self het nog nooit die geleentheid gekry om daar te werk nie, maar wat ek hoor en lees, maak my as inwoner bekommerd, want die dag as ons weer deur ’n ramp getref word – natuurlike ramp of anargie soos met vorige oorstromings en betogings – dan is Drakenstein se stelsels onvoldoende.
Die stadsbestuurder, verstaan ek, is ’n baie ervare mens met kennis van die bestuur van munisipaliteite, maar my vraag is hoekom word deur sy eie mense hy ’n rat voor die oë gedraai? Hoe bestuur jy na-ure (ongeag of daar na-ure-personeel is) jou departement van ’n ander dorp af as jy nie fisiek daar is nie?
Lyk my almal kom maar net na die munisipaliteit vir die baie hoë salarisse, die bonus in Novembermaand, asook nog ’n volle 13de salaris in Desember, wat ons as belastingbetalers moet opdok. Waarde vir daardie geld het ek as inwoner nog nie gesien nie, en ook nie dat die hoofde van die departemente enige verskil gemaak het nie.
Ons kan ons elke keer vergelyk met ander munisipaliteite, maar dit lyk my nie hierdie bestuurders het ’n plan nie, of egter – wil nie ’n plan maak nie. Graag sal ek weet hoe hul prestasiebestuur beoordeel word – of moet ons ook eerder vra: watter prestasie?




