Dit is maar ’n erge week vir almal weens die brandstofprys wat weer eens ’n nuwe hoogte ingeskiet het, en daarmee saam die goedkeuring van vanjaar se munisipale begroting. Dit beteken dus elke belastingbetalende huishouding moet weer eens meer betaal vir water, krag, vullisverwydering en dies meer.
Om nie eens te praat van die reeds hemelhoë voedselpryse nie, wat nou ook weer die stygingstrap weens die brandstofprys sal klim.
Die res van die jaar se vooruitsigte lyk ook nie goed nie.
Die landbousektor reken vanjaar se produksiekoste gaan die hoogste nog wees. Die rentekoers het reeds gestyg en sal waarskynlik binnekort weer.
Tans ook het 1,4 miljoen mense minder nou werk as voor die aanvang van die pandemie.
Die vooruitsigte vir die res van die jaar lyk volgens ekonome nie goed nie.
Die vraag wat die gemeenskap nou byna daagliks vra, is hoe gaan ons oorleef? Dit is sekerlik ’n vraag wat nie beantwoord kan word nie.
Dit gaan geweldige ingryping van die regering asook plaaslike regerings verg om hierdie situasie effens vir die verbruiker te verlig. Koste en belastings kan eenvoudig net nie die hoogte in skiet terwyl mense hul werk verloor of al minder geld verdien nie.
Jan Alleman kan ook nie aanhoudend vir ’n welsynstaat betaal nie.




