Michael Jonas (direkteur van die ATM), wenners Danie van Wyk (DAK Netwerk) en Mogamat Alexander en Jean Meiring (voorsitter van die ATM-raad) by die geleentheid.


Die erfenis-aktivis Mogamat Alexander en die bemagtigingsorga­ni­sasie DAK Netwerk is die 2022- wenners van die Neville Alexander-prestige-eerbewyse vir die bevordering van Afrikaans.

Dié kompetisie is vanjaar vir die vyfde keer deur die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) aangebied.

Alexander (1936-2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.

Die pryse, ter waarde van R40 000, geborg deur Naspers, is Saterdag 15 Oktober by ’n glansgeleentheid op die Pearl Mountain-landgoed in die Paarl deur die voorsitter van die ATM-raad, adv. Jean Meiring, oorhandig. Dit het gevolg op die wyd erkende Afrikaanskundige prof. Hein Willemse se Neville Alexander-gedenklesing waarin hy Alexander se rol en bydrae in vandag se konteks belig het. Willemse, die redakteur van Achmat Davids se Die Afrikaans van die Kaapse Moslems, het ook die bydrae van Arabies-Afrikaans tot die ontwikkeling en herlewing van Afrikaans bespreek, waarna die gaste vrae kon stel en insette kon lewer.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is hierdie eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder. “Vanjaar se keuses was selfs moeiliker as vantevore, want ons het werklik uitstaande inskrywings gehad. Ons bedank almal wat benoem is vir hul onbaatsugtige werk om Afrikaans te bevorder; dit word nie misgekyk nie. Doe zo voort.”

Alexander, wat deur Fatima Allie benoem is, is spesifiek uitgesonder vir sy boek Dictionary of Loanwords in the Cape Muslim Vernacular, wat vanjaar die lig gesien het nadat hy jare lank tipiese woorde en uitdrukkings van Moslem-Afrikaans versamel het. Dié publikasie fokus op die taalkultuur, idiomatiese uitdrukkings en geskrewe Arabies-Afrikaans wat met die woorde gepaard gaan.

“Die doel van die boek is om trots by die Kaapse Moslems in te boesem vir ons oorgeërfde weergawe van Afrikaans. En dat ons dit nie moet sien as ’n verkeerd uitgesproke weergawe van die later geskepte Standaardafrikaans nie. Die ryk woordeskat is danksy al die Maleise en Arabiese leenwoorde asook selfgeskepte Afrikaanse woorde wat Kaapse Moslems van hul Afrikagebore voorouers geërf het,” het hy gesê.

Volgens hom is Afrikaans “ook ons taal. As ons Kaapse Maleise Afrikaans ooit uitsterf, dan sterf ’n deel van ons.” Sy blog is ook wêreldwyd gewild en sy voorstelle hoe om spesifieke Afrikaanse klanke met behulp van die Arabiese skrif te skryf, word toenemend ondersteun.

DAK Netwerk se naam verwys na drie taalvaardige Khoi-leiers wat simbolies is van die breë Afrikaanse gemeenskap se herkoms en erfenis, naamlik Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa. Die organisasie het hom die afgelope drie jaar veral toegespits op die erkenning van Afrikaans as ’n inheemse asook onderwystaal, onder meer deur middel van suksesvolle protesaksies in Pretoria. Hulle het ook vanjaar ’n ooreenkoms met die Universiteit Stellenbosch bereik om die lae persentasie bruin studente aan die instelling aan te pak. Verder word DAK Netwerk gereeld deur die media geraadpleeg oor brandpuntkwessies wat spesifiek agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe raak, en bied hulle Afrikaanse jeugberade vir hoërskoolleerders asook ’n Afrikaanse onderwyserberaad aan.

“Ons fokus ook op werkbare maniere om die onder- en swak prestasie in wetenskap en wiskunde in plattelandse Afrikaanse skole deur middel van programme met vakkundiges op te los,” het die organisasie se uitvoerende voorsitter, Danie van Wyk, wat die prys namens hulle ontvang het, gesê. “DAK Netwerk het boonop ’n Afrikaanse publikasie, Vir hulle wat na ons kom, en die digbundel, Agt poëte, in 2021 die lig laat sien. ’n Opvolgpublikasie verskyn volgende maand waarin verskeie skrywers uit die gemeenskap sal deelneem. Hulle sal dan hul ‘komvandaanstories’ met die lesers deel.”

Die wenners het ’n sertifikaat ontvang en prysgeld ten bate van relevante taalprojekte. Vorige wenners sluit in Gaireyah Fredericks, die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans, prof. Michael le Cordeur, Suzie Matlhola, Ernest Loth, die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article