’n Jong prokureur van Faure & Faure in die Paarl is midde-in sy besige hofskedule besig om sy naam op die rugbyveld te maak.
Darian Hock (28) is vanjaar in die Boland Kavalierspan opgeneem, waar hy as losskakel uitdraf. Die Kavaliers het die seisoen vanjaar uitstekend afgeskop deurdat hulle steeds onoorwonne in die Curriebeker-liga is.
Darian het sy vroeë jare in die Tuinroete-distrik deurgebring en die gesin het in 2005 na die Paarl verhuis.
Hy het sy nuwe tuiste by Klein Boishaai gevind – ’n skool waar, soos sy leuse lei, ’n takkie ’n boom word, en dit het hom in baie opsigte gevorm.
Hier het hy hom entoesiasties in soveel moontlik ingewurm en was selfs lid van die swemspan. Hy was só betrokke dat hy in 2007 as Sportman van die Jaar by Kleinbois aangewys is.
Darian het in 2008 by die Hoër Jongenskool Paarl ingeval – vol moed en ywer. Hy het egter sy voete op die sportveld eers teen die einde van sy hoërskoolloopbaan gevind, danksy Elmo Wolfaardt en Gerrie Visser.
Hy het Boland in 2012 in driesprong verteenwoordig en ook die groot voorreg gehad om die eerstespanrugbytrui oor sy kop te trek. Dié jaar was ’n groot jaar met seges oor Grey College en Paul Roos.
“Dit is geen geheim dat die skool ryk in tradisie is nie en ek is soos baie ander basiese en beskaafde waardes geleer en talle geleenthede gebied,” onthou Darian.
Hy het ná skool by die Puk-rugby-instituut aangesluit, waar hy ’n jaar deurgebring en sy eerste jaar van sy regskursus voltooi het. Hy het egter huis toe verlang en sy LLB-graad aan die Universitiet van Wes-Kaapland voortgesit en dit in 2017 voltooi.
Darian is in 2018 as lid van die SA Studente- 7’s-span gekies en is in dieselfde jaar deur die Universiteit van Kaapstad genader om Varsitybeker-rugby te speel. Hy het dié geleentheid gebruik om verder te studeer en ’n nagraadse diploma in kriminologie aan die einde van 2018 verwerf.
Dié jong prokureur het in 2019 in die Studente-wêreldbeker in Japan gespeel, waar sy span uiteindelik as die kampioen gekroon is – ’n oomblik wat Darian nooit sal vergeet nie!
Ná ’n kort seisoen by die Valsbaai-rugbyklub in Constantia het Darian besluit om sy rugbydroom vir eers opsy te sit en terug te keer na die Paarl, waar hy ’n geleentheid gekry het om by Faure & Faure Ingelyf-prokureurs, een van die oudste regsfirmas in Suid-Afrika, aan te sluit.
Hy het in April 2019 sy klerkskap onder leiding van Christie Viviers begin, en in Julie 2021 is hy as prokureur in die hooggeregshof in Kaapstad toegelaat.
“Ek het werklik – soos die afgesaagde uitdrukking – ’n passie vir die reg. Dit is in my oë nie net ’n beroep nie, maar ’n medium waardeur ek ander kan help. My fokusgebied van die reg sluit in arbeidswetgewing en algemene litigasie, wat ek baie geniet.”
Hoewel Darian se fokus op sy regsloopbaan gespits is, het hy intussen weer sy rugbystewels aangetrek.
Hy onthou hoe baie tyd hy as jong toeskouer by die Boland-stadion in Wellington deurgebring het om die Boland Kavaliers te ondersteun en spelers soos Cornal Hendricks en Willie Le Roux in aksie gesien het.
Darian het die eerste keer in 2015 as onder 21-speler vir Boland uitgedraf.
“Dit is en bly ’n voorreg om die trui oor my kop te trek, en ek is ewig dankbaar om met die Kavaliers geassosieer te word. Die hoofafrigter, Franzel September, het verlede jaar al begin om die span deeglik voor te berei en hy het reeds die fondament vir ons spelers gelê. Voorts het ons ’n paar seges aangeteken, maar ons besef ons moet ons voete op die grond hou en aanhou om hard te werk. Ons het ’n goeie kultuur en ons doel is om die kompetisie wen!”
Dit is egter die grootste uitdaging om sy belowende loopbaan as prokureur, waarop hy hom toespits, met sy rugby te balanseer – en dit met ’n jong gesin in die huis.
Darian en sy vrou, Rasheeqah, wat hy as sy steunpilaar beskryf, het onlangs die ouers van ’n pragtige prinsessie, Haniyah, geword.
“My vrou is die ruggraat van ons gesin aangesien ek óf êrens in ’n hof óf op die oefenveld is. Sonder haar sou ek natuurlik al vroeër my stewels moes ophang. My vrou inspireer en ondersteun my daagliks om steeds my drome na te jaag.”
Rasheeqah het self ’n BCom- en LLB-graad asook honneurs in bedryfsielkunde. Sy het egter besef dat die korporatiewe wêreld nie nou vir haar beskore is nie, maar sy het ’n passie vir mode en werk gereeld met talle handelsmerke.





