Kenneth Janson van Hoër Jongenskool Paarl is een van die land se top 3 matrikulante.


Die skoolgemeenskap in die Paarl loop oor van trots ná die nuus dat Kenneth Janson van Hoër Jongenskool Paarl een van die top drie matrikulante in die land is.

Die skool het op hul Facebook-blad geskryf: “Baie geluk, Kenneth! Die HJS is ongelooflik trots op hierdie uitstekende prestasie van jou. Hiermee lewer die HJS dus vir die tweede agtereenvolgende jaar een van die top drie leerders in Suid-Afrika.”

Die klas van 2022 in die Wes-Kaap het ook geskiedenis gemaak met ’n 81,4% slaagsyfer. David Maynier, LUR vir onderwys in dié provinsie, sê hy is verheug met die resultate wat die matrikulante gelewer het.

“Ons is verheug dat die Wes-Kaapse matriekklas van 2022 struikelblokke oorkom het wat veronderstel was om hulle te breek, en het in die proses ons provinsiale slaagsyfer tot 81,4% verhoog met 49 102 kandidate wat die eksamen geslaag het.

“Dis die grootste aantal suksesvolle kandidate wat ons nog ooit gehad het. Nog meer belangriker is dat elkeen van ons suksesvolle kandidate wat geslaag het in aanmerking kom om by universiteite of kolleges aansoek te doen.”

Wat hierdie prestasie des te meer buitengewoon maak, volgens Maynier, is dat die matrikulante deurgedruk het ten spyte van die Covid-19 pandemie en ander ontwrigtings gedurende die eksamenperiode.

Matrikulante se individuele uitslae sal môreoggend teen 11:00 beskikbaar wees by skole.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article