Die Hoër Jongenskool Paarl het die tweede agtereenvolgende jaar een van die slimste seuns in die land opgelewer.

Kenneth Janson is verlede week as een van Suid-Afrika se top-drie matrikulante vir 2022 aangewys.

Janson se goeie prestasie volg nadat Ulrich le Roux, ook van HJS, in 2021 as Suid-Afrika se nommer-een-matrikulant aangewys is.

Die eerste en tweede topposisies vir 2022 word beklee deur meisies. Janson het die derde plek opgeraap as die enigste seun in die topdrie.

Kort nadat die nuus gebreek het, het die skool op sy Facebook-blad geskryf: “Baie geluk, Kenneth! Die HJS is ongelooflik trots op hierdie uitstekende prestasie van jou. Hiermee lewer die HJS dus vir die tweede agtereenvolgende jaar een van die top-drie leerders in Suid-Afrika op.”

Volgens Janson het hy baie goed en trots gevoel die oomblik toe Angie Motshekga, minister van onderwys, die aankondiging Donderdag (19 Januarie) gemaak het. “Dit was vir my ’n groot voorreg. Ek het ook baie vinnig besef hoe bevoorreg ek is, want ek ken baie intelligente mense wat baie slimmer is as ek en wat nie daar was nie. Ek het vir myself gesê dit is ’n massiewe voorreg en om die oomblik te waardeer.”

Hy sê wat hom tot op hierdie punt gedra het, is die gedagte dat hy in staat is om dit te kan doen. “Ek het in ’n ander onderhoud gesê dit laat my dink aan die storie van Roger Bannister. Hy was die eerste mens wat die myl in onder vier minute gehardloop het. Sedertdien het 1 663 mense dit al gedoen. Voor dit het hulle geglo niemand kan dit doen nie.

“Omdat Ulrich verlede jaar in die top-drie op nasionale vlak was, het ek geglo aangesien hy ook my onderwysers gehad het, in dieselfde skool as ek was en deur baie van dieselfde dinge as ek gegaan het, hoekom kan ek dit nie ook doen nie? Ek dink dit het my baie geïnspireer.”

Janson sê ’n aanhaling van die Amerikaanse skrywer Ralph Waldo Emerson motiveer hom elke dag. “To know even one life has breathed easier because you have lived, this is to have succeeded.” Vir Janson beteken dit baie om deur optrede ’n verskil te maak, soos om ’n vertrek beter agter te laat as toe jy daar ingegaan het.

Dié 18-jarige se prestasie het nie net in sy skoot geval nie – hy het hard gewerk.

Dit is nie die eerste keer dat Janson aangewys is as die derde “slimste” leerder in die land nie. Tydens sy gr. 11- en gr. 12-jare het hy aan die Blitsbrein Junior-kompetisie deelgeneem, wat deur Netwerk24 in samewerking met Die Burger, Beeld en Volksblad aangebied word. Janson het in al twee kategorieë waaraan hy deelgeneem het die nasionale eindstryd gehaal. Hy is in die derde plek algeheel as die wenner van die twee afdelings – gr. 10 en gr. 11 (een kategorie) en gr.12 – aangewys.

Janson het ook ’n paar motiverende woorde vir die jeug wat nog op skool is. “Jou hoërskoolloopbaan kan die beste jare van jou lewe wees. Gebruik elke geleentheid, hetsy ten opsigte van akademie, sport of kultuur, of net om jou jare te geniet. Besef dat jy bevoorreg genoeg is om elke geleentheid te hê.”

Wat hy gaan studeer, moet hy nog besluit, maar Janson sê sy hart neig meer na aktuaris en hy gaan definitief by die Universiteit Stellenbosch swot.

Sy skoolhoof, Derek Swart, sê dit het so half ’n grappie by HJS geword dat hulle die afgelope twee jaar die slimste seuns in die land opgelewer het.

“Ek weet nie of daar ’n skool is wat dit twee keer agtermekaar reggekry het nie. Ek is baie trots op die ouens (Ulrich en Kenneth) se harde werk en die feit dat een van ons motto’s Boishaai bied balans is. As jy na verlede jaar kyk, is Ulrich ’n ou wat atletiek gedoen het, en hy was ’n goeie hokkiespeler. Dieselfde met Kenneth.

“Kenneth is een van ons topredenaars, hy was ’n prefek, hy was in die junior stadsraad, het skaak gespeel en hy was ’n lekker rugbyspeler. Dit is ouens wat ’n gebalanseerde leefstyl het en wat diverse aktiwiteite aanpak en nie net heeldag sit en leer nie. Daaroor is ek baie bly en des te meer trots op die ouens.”

  • Paarl Boys’ High School produced the smartest boy in the country for the second year in a row. Kenneth Janson was named last week as one of the country’s top three matriculants for 2022.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article