Hillcrest se H.R. Claasen laat loop met die bal in dié span se wedstryd Saterdag teen Newtons. Hillcrest het almal met sy oorwinning van 18-14 verbaas.Foto: Roswell de Vries


Hillcrest het die naweek skokgolwe deur die Boland gestuur toe hy die voorlopers in Witsentraal, die Newtons-rugbyklub, op Pelikaanpark met 18-14 gestuit het.

Newtons, wat bekend is vir sy aanvallende spel, is in die eerste helfte van die wedstryd voortdurend deur die rotsvaste verdediging van die tuisspan gefrustreer. Groot duikslae is oor die hele veld uitgevoer.

Die wedstryd het ’n nuwe wending ingeneem toe Hillcrest se senter, H.R. Claasen, die bal onderskep en vanuit sy eie kwartgebied ’n drie gaan druk het. Claasen, wat ook as Speler van die Wedstryd aangewys is, was rotsvas op verdediging oor die hele veld heen.

Minute later het die jong Ethan Voster ook ’n onderskep-drie van sy eie doellyn af gaan druk.

Die besoekers kon nie aan die gang kom nie en die wedstryd het later 18-0 in die guns van Hillcrest gedraai.

Swak dissipline in die tweede helfte het tot twee geelkaarte vir Hillcrest gelei. Die besoekers het die geleentheid uitgebuit en twee drieë te gedruk.

Newtons het aanhou veg tot op die laaste minuut, maar kon nie die knoop deurhak nie en is stert tussen die bene teruggestuur, met die telling 18-14 in die guns van Hillies.

. In nog ’n derby het die Wellington-rugbyklub 30-24 met Roses United afgereken.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article