Die afgelope naweek het rugbyondersteuners van regoor die Boland na Wellington se Boland-stadion saamgetrek vir die Boland Top-8-uitspeelwedstryde.
Die vier streke se twee beste spanne het byeengekom om sake uit te spook. Die spanne wat hierdie jaar deelgeneem het was Witsentraal se Roses United en Hillcrest United van Wellington, Swartweskus se Wesbank en Darling, Breëlangeberg se Robertson Town en Worcester Villagers en Overberg se Hawstons en Atlantics.
’n Heerlike atmosfeer met sang en dans op die pawiljoene het die spanne aangemoedig om goeie rugby op te tower.
Tydens dié wedstryde het die twee groot rugbyklubs van Wellington (Roses en Hillies) die dorp se naam hoog gehou.
Die eerste wedstryd was gespeel deur Roses United en Atlantics. Roses United het gewys waarom hulle een van die groot name in die Boland is toe hulle Atlantics met 97 – 13 gewen het. Die span van Hermanus was heeltemal onkant betrap deur ’n fikse en baie georganiseerde Roses-span. Met goeie samespel en gehalterugby deur Cornel Hendricks en Jonwin Lewis was dit maar moeilik om Roses te stuit.
Die wedstryd tussen die streekwenners, Robertson en Darling, wat weer na jare hulle regmatige plek in die Swartweskusstreek ingeneem het, was ’n drieëfees.
Met goeie hardlooprugby het Robertson in die laaste minuut die wenpunte aangeteken met ’n skepdoel. Die eindtelling was 50 – 48 in Robertson se guns. Wesbank, die streekwenners van Swartweskus moes buig voor Villas in ’n dinamiese wedstryd waar voorspelers gedomineer het. Villa het koning gekraai met 41 – 35.
In die finale wedstryd het Hillies en Hawston (Top-8-kampioen van 2016) mekaar die stryd aangesê. Hawston Skrik vir Niks, wat nog nie ’n wedstryd verloor het nie, het kleigetrap toe die jong Hillies hulle van hulle voete af gespeel het. Emile Booysen het talle Hawstonspelers afgeskud met stormlopies terwyl Dillon Maart draaie om die besoekers gehardloop het. Hillies het skokgolwe deur die hele Boland gestuur toe hulle na 80 minute as wenners uit die stryd getree het. Die eindtelling was 30 – 21.
Komende naweek vind die semifinaal op die Boland-stadion plaas waar Roses United teen Worcester Villagers (14:00) die stryd sal aansê en Hillcrest United teen Robertson (16:00). Hekke open om 10:30.




