Hillcrest United het Saterdag sy titelstrewe in die Witsentraal- Grootuitdaagbekerkompetisie met ‘n oortuigende 41-12-oorwinning oor Evergreens van die Paarl verder versterk. Dié Wellingtonse span beklee nou die tweede plek op die punte- leer, met 63 ligapunte ná 16 wedstryde.
Hoewel Hillies met ‘n rotasie- opsie gespeel het en die meeste van sy sleutelspelers van die plaasvervangerbank ingebring het, het hy die wedstryd uiteindelik gemaklik met sewe drieë beklink.
Tog was die vertoning ver van sy beste, met talle hanteerfoute en slordige spel wat in die wedstryd deurgesypel het.
Evergreens het sterk begin, met Charlton Daniëls (vleuel) wat die eerste punte van die dag ná ‘n deurslaggewende hardlooplyn aangeteken het.
Hillcrest se kaptein, HR Claasens, het spoedig met ‘n drie teruggeslaan.
Kort daarna het Cameron Cornelissen van Evies ‘n losbal benut om sy span se tweede drie te druk, verdoel deur Darryn Booysen. Evergreens het goeie rekenskap van homself gegee. Drie mislukte strafdoele het egter verhoed dat hy sy voorsprong kon vergroot.
In teenstelling daarmee het Hillies sy kanse benut – veral Emilio Coetzee, wat twee drieë gedruk het – een net voor rustyd – om die telling na 19-12 te bring.
Ná rustyd het die Paarlse span geen antwoorde gehad nie. Heinrich Isaacs het twee byna identiese drieë in dieselfde hoek gedruk – telkens deur Bjorn Wicklow verdoel. Keanu Adonis en Curtly Swanepoel het die laaste punte aangeteken om die eindtelling op 41-12 vas te lê.
Hoewel die oorwinning oor- tuigend was, sal Hillcrest se bestuur besorg wees oor die vlak van samewerking en diepte in die groep – veral met die uitspeelrondes wat naderkom.
Evies se Daniëls het van vroeg af druk op die verdediging geplaas en sy teenstanders met sy vaart en fyn beweging aan die raai gehou.
HR en Emillio het as senterpaar in die middelveld uitstekend gekombineer. Dié twee het mekaar goed in aanval en verdediging aangevul en hul kommunikasie en struktuur het grootliks tot Hillcrest se momentum bygedra.
Isaacs was ook ‘n doring in die vlees van die teenstanders en het met sy aanvallende spel voortdurend gevaar gestroop. Sy vermoë om die verdediging te breek, het sy span telkemale in ‘n sterk posisie geplaas.
Die hardwerkende losvoorspeler James Solomons, wat eintlik op slot ingespan is, is die tweede keer as Speler van die wedstryd aangewys.
Puntemakers:
Hillcrest United (41):
Drieë: HR Claasens, Emillio Coetzee (2), Heinrich Isaacs (2), Keanu Adonis, Curtly Swanepoel. Doelskoppe: Bjorn Wicklow (3).
Evergreens Paarl (12):
Drieë: Charlton Daniëls,
Cameron Cornelissen. Doelskop: Darryn Booysen.
Ander Uitslae:
Witsentraal-grootuitdaag:
Delicious 41-37 Newtons
Hamlet 21-27 Ceres
Temperance 12-20 Young Blues
Villagers Newton 29-17 Wolseley





