Die span van Wellington het die afgelope naweek na Wolseley gereis om Miracles ’n rugbyles te gaan leer.
Die besoekers het 11 drieë in die eerstespanwedstryd gedruk, terwyl die tuisspan met twee strafdoele tevrede moes wees.
Die rustydtelling was 29-6 in die guns van Hillies, en daarna is die krane behoorlik oopgedraai, met die eindtelling 73-6. Hillcrest het weer eens met goeie aanvallende spel en goeie verdediging gewys hoekom hy ná vyf wedstryde steeds onoorwonne is.
Vir die besoekers het die plaasvervangerstut, Marshall Afrika, die haker, RT van der Merwe, die kaptein, Carlon Corollissen en die nuweling, Conroy Eihman, ’n barshou gespeel. In die agterlyn was die skrumskakel, Gilton Mangena, die senter, Eugan Marthnus, en die vleuels Renaldo Young en Keanu Gertse dodelik op die aanval. Young het ook drie van sy span se elf drieë gedruk.
Hillcrest het ook die derde span [36-5] en tweede span [27-5] oortuigend gewen.
Hillcrest se hoofafrigter, Francois Booysen, sê hy is baie trots op die manier waarop sy spelers elke wedstryd benader. “Die spelers sit baie in en is oop om te leer.”
Hy voeg by daar is egter ruimte vir verbetering.
Hierdie naweek speel Hillcrest gasheer vir die Wellington-rugbyklub op Pelikaanpark.
Toegang beloop R20 per toeskouer, R10 vir kinders, R10 vir voertuie en is gratis vir pensioentrekkers.
Die hekke open reeds om 12:30 met wedstryde wat om 13:30 afskop. Die hoofwedstryd is om 16h00.. Puntemakers: Drieë –Mitchell Jacobs [1], Keanu Gertse [1], Curtley Swanepoel [1], Renaldo Young [3], Gilton Mangena [2], Durian Bastiaan [1] en Marshall Afrika [2]. Doelskoppe: Frederico Mouers [6 doelskoppe].





