Die Paarl-rugbykode wil graag reageer op Gerald Esau se foutiewe feite in sy reaksie verlede week oor Paarl se sportvelde.
Feit nommer 1: Daar is 11 rugbyklubs in die Paarl en nie 15 nie, waarvan vyf klubs op Dal Josafat oefen, twee op New Orleans-velde, twee op Boy Louw- en een op Parysvelde, terwyl een klub op ’n skoolveld oefen.
Klubs speel met twee spanne en nie drie spanne nie behalwe vier klubs wat met ’n o.20-span speel.
Op Dal Josafat deel twee klubs ’n oefenveld met een klub wat op atletiek se opwarmingsgebied oefen.
Die rugbykode het reeds jare gelede en elke jaar daarna gevra dat die gedeelte agter die Dal Josafat-stadion geoormerk moet word vir oefening alleenlik, aanbied van feeste, kerkbasare en die Summer Festival.
Dit sal ook die kwessies oplos van kodes wat in mekaar se seisoen inbeweeg.
Vanjaar word geld wat geallokeer is vir Dal Josafat aangewend word om die buitemure te verhoog eerder as om die prioriteite soos geïdentifiseer aan te pak.
Die versoek word elke jaar deurgegee dat die Dal Josafat se E-veld – wat weens ongelyke oppervlakte nie geskik is vir wedstryde nie – eerder gebruik moet word vir oefeninge en dat ligte op die B- en D-veld na die E-veld gedraai moet word.
Die rugbykode se wens is dat geen oefeninge op speelvelde of atletiek se opwarmingsarea moet plaasvind nie en dat velde slegs vir die speel van wedstryde aangewend word, maar die versoek word elke keer geïgnoreer.
Vandalisme is ’n groot probleem, maar kan nie vir alles geblameer word nie.
Die ligte op die A- en B-velde kort gloeilampe, die middelste lig op die D-veld brand en slaan ná ’n tyd af – dalk net ’n swak konneksie of gloeilampe wat benodig word, dus nie vandalisme nie, maar eerder instandhouding.
Dit is egter waar dat die tydelike skeepshouers erg onder vandalisme deurgeloop het en ’n mens wonder hoe dit kon gebeur as daar ’n sekerheidsmaatskappy van buite die Paarl ten duurste aangestel is, maar vandalisme duur voort.
Die sloot is op ’n vergadering met amptenare van die sportdepartement opgehaal, maar absoluut niks het gebeur nie, terwyl daar hand en tand beloof is dit sal uitgesorteer word voor die aanvang van die rugbyseisoen.
Op New Orleans-velde is geen beligting gevandaliseer nie, maar die oplossing wat die kode voorstel is dat beligting soos dié op Newtonpark gemoderniseer moet word waar ’n afstandbeheerde toestel gebruik word, maar geen terugvoering word oor die voorstel verskaf nie.
Boy Louw-velde se ligte werk nie en soos beweer deur die vorige opsigter, is ligte afgeskakel omdat die wind die ligte gedraai het sodat dit in die lug skyn en ’n steurnis vir vliegtuie is.
Die mobiele beligting wat verskaf word is amper net beter as twee motors se ligte, maar word tog met baie dankbaarheid aanvaar.
Faure-stadion is inderdaad ’n witolifant, geen klub mag op die Faure nie en amptenare se standpunt is dat wedstryde slegs op Faure gespeel kan word ná die skolederbies. Terwyl slegs een wedstryd tans vir Faure geallokeer is, kan die fasiliteit sekerlik aangewend word totdat die huidige situasie verbeter.
Amptenare van DM het reeds die Donderdag geweet dat daar geen water in toilette gaan wees nie en kon ten minste mobiele toilette verskaf het al was dit net vir vroue en bejaarde toeskouers.
Die feit is, meneer Esau, indien u afdeling nie bereid is om hande te vat met die sportgemeenskap nie, gaan ons binnekort ons velde weens oorbenutting teen miljoene rande moet opknap wat eerder aan behuising bestee kon gewees het.
U sal dan seker terug in u tuisdorp wees met geen belang by wat in die Paarl gebeur nie.
Laastens wil die rugbykode sy opregte dank aan die munisipale bestuurder en sy administratiewe personeel uitspreek wat binne ure nadat klagtes op sy tafel beland het met daadwerklike optrede en aksie begin het om die situasie in die belang van die sportgemeenskap te probeer oplos.



