Die bekende Paarlse skrywer van radiodramas en filmvervaardiger, Martyn le Roux, het onlangs sy jongste produksie, Hex, oftewel Die Legende van die Hexrivier-vallei, bekend gestel.
Lede van die publiek asook van die akteurs het sowat twee weke gelede vir die eerste keer dié unieke luisterdrama, ’n eerste van sy soort, op die skerm beleef.
Volgens Le Roux is dié legendariese volksverhaal nog nooit op dié manier gedramatiseer nie.
“Tydens die skryf van die drama het ek heelwat navorsing gedoen en het tot in die argiewe gaan krap om te sien wie in die vallei grond besit het in die jare van die ou Kaapkolonie.”
Le Roux vertel meer oor wat hy kon opspoor.
“Onder die Hugenote wat hulle aan die Kaap gevestig het, was daar ene Pierre Savoye met sy vrou en dogter. Met die vlug oor die Franse grens na Nederland sterf die enigste seun. Met Eliza, die dogter, het hulle toe na die Kaap gekom. Savoye het deur die nouste vlyt gou op die been gekom, sy plaas in Drakenstein verkoop en na ’n ander in die Hexriviervallei, genaamd Buffelskraal, getrek.
“Omdat Eliza besonder mooi, van edel bloed en daarbenewens fyn opgevoed was, het baie jongmans om haar hand meegeding. Van almal het sy ’n jong man, Jean Durand, uitgekies. Voor sy hom egter die jawoord wou gee, moes hy eers, soos die ridders van ouds, ’n kordaatstuk verrig om te toon dat hy haar werklik liefhet, en dat hy dapper genoeg is om met ’n edeldame te kan trou.”
Volgens Le Roux is daar egter meer as twee weergawes van die verhaal en is die twee bronne wat hy die beste gevind het, dié van Pieter W. Grobbelaar en Lawrence Green.
“Ek het ook tot die gevolgtrekking gekom dat die hele legende net ’n storie is wat saam met die destydse Franse Hugenote hier geplant is. Die datums, name, mense en plekke stem glad nie ooreen nie. Die rekords van grondbesitters in die Hexvallei stem glad nie ooreen met enige van die verhaal se inhoud nie,” sê hy.
Volgens hom is die verhaal vir die eerste keer opgeteken in die onderwysersblad De Unie deur die skrywer D’Arbez in die jaar 1914, en getiteld, “De rode bloem”.
“In Hex het ek al die informasie en verhale gekombineer om ’n nuwe twist op die hele storie te plaas.”
Anton Goosen se lied, “Hex-Vallei”, word as temalied vir die luisterdrama gebruik.
Die rolverdeling bestaan uit Sue Nightingale (Elizabeth/Liza de Savoye), Carien Punt (Maria de Savoye), Johann Nel (Pierre de Savoye), Hendri Mouton (Philippe Durand), Otto van der Walt (Wouter de Vos), Sarah Matroos (Guilma Stander) en Martyn le Roux (Sybrand van Vuuren).
Hex is reeds op Paragon se Youtube-kanaal en kan aanlyn gehoor en gekyk word.
. Vir meer inligting oor ander produksies en om na die luisterdrama te luister, besoek gerus www.pcssm.co.za.
. Le Roux, wat die afgelope paar jaar talle toekennings by internasionale filmfeeste verwerf het, het die filmmaatskappy Paragon Cinematic in 2017 op die been gebring.





