Baie mense het waarskynlik gedurende hul skoolloopbaan ’n rapport gekry waarin ’n onderwyser geskryf het hulle het baie meer potensiaal as wat hul huidige prestasies weerspieël.
Of dit kan gebeur dat ’n mens iets ontdek waarin jy besonder talentvol is sonder dat jy – of ander – dit besef.
Toe ek onlangs lees dat die legendariese ultramarathonatleet Mavis Hutchinson, wat eers op 37 aan atletiek begin deelneem het, oorlede is, het dit my onwillekeurig laat dink oor die latente potensiaal waaroor baie mense beskik, maar dikwels nooit ontgin nie.
Karen Botha was op skool ’n uitstaande naelloop- en hekkiesatleet, en van haar rekords in hekkieitems het vir jare bly staan. Een jaar het sy egter op die dag van ’n skoleatletiekbyeenkoms verkoue gehad en besluit om eerder aan verspring, waarvoor sy nie geoefen het nie, deel te neem.
Sy wen toe die verspring met ’n sprong van 6,11 m, wat hulle agterna uitgevind het ’n Suid-Afrikaanse rekord was. Haar potensiaal as verspringer is bloot toevallig ontdek, en het vir haar groot geleenthede ontsluit.
Ná skool het sy met ’n sportbeurs in die VSA gaan studeer, en van haar tweede jaar af haarself op verspring toegelê. Uiteindelik het sy aan die 1992- Olimpiese Spele in Barcelona deelgeneem.
So was dit ook met Mavis Hutchinson, wat onlangs op die ouderdom van 97 oorlede is. As kind het sy baie uitdagings en terugslae rakende haar gesondheid beleef. Hoewel sy op hoërskool graag aan atletiek wou deelneem, het sy telkens tou opgegooi omdat sy gevoel het sy kon niks bereik nie.
Sy het jonk getrou, maar was vier jaar later ’n geskeide vrou met twee seuntjies. Sy is later weer getroud met ’n man wat ook twee kinders gehad het, en hulle het saam nog twee dogters gehad.
Sy het op 37-jarige ouderdom party namiddae saam met haar seuns om die gholfbaan gaan draf en besef dit bied haar goeie afleiding van haar man, ses kinders en ’n huishouding. Sy het toe eers begin om aanvanklik aan 6 km- en later 12 km-stapwedlope deel te neem.
Twee jaar later het sy aan haar eerste 80 km-stap deelgeneem en die volgende jaar daardie rekord vir vroue verbeter. Daarna het sy ook aan landloop begin deelneem. In 1963 was sy die enigste vrou wat aan die Johannesburg-marathon deelgeneem het en het dit in drie uur 50 minute voltooi. In 1965 het sy haar eerste Comrades-marathon, ook as die enigste vroulike deelnemer, voltooi. Tog het sy gevoel sy soek groter uitdagings. In 1971 het sy aan ’n 24-uur-wedloop in Johannesburg deelgeneem. Sy was weer die enigste vrou saam met 51 mans, van wie net 20 die wedloop voltooi het. Sy het in dié wedloop die rekords vir 40 km en 80 km verbeter en altesaam 171 km in 24 uur afgelê.
In 1973 het sy die 600 km tussen Johannesburg en Durban in ses dae, 13 uur en 55 minute afgelê. Die volgende jaar het Hutchinson dieselfde wedloop opdraand – van Durban na Johannesburg – gehardloop.
In 1977 het sy in ’n rekordtyd van Johannesburg na Kaapstad gehardloop teen gemiddeld 77 km per dag. Op 54-jarige ouderdom het sy in 1978 nagenoeg 4 700 km van Los Angeles in die VSA na New York gehardloop.
Op 55-jarige ouderdom het Hutchinson die lengte van Brittanje – van John O’Groats to by Land’s End – gehardloop en die vorige rekord met nege uur verbeter. Die BBC het haar beskryf as“the toughest grandmother in the world”.
Daarna het Hutchinson voortgegaan en steeds aan meestersatletiek deelgeneem, en op 86-jarige ouderdom nog twee uur per dag geoefen.
Wat is jou verborge talent – daardie “iets” wat jy nog altyd gedink of gevoel het jy graag wil doen? Miskien is dit nou die tyd.




