Dit is landwyd ’n feit – nie net is Suid-Afrika se ekonomiese toestand tot rommelstatus verklaar nie, maar rommel hoop al hoe meer in ons strate op.

Daarbenewens raak munisipale vullisterreine oorvol van al die gemors wat daagliks deur die publiek gegenereer word.

Een ding wat hierdie situasie egter effe kan sus, is herwinning.

Die Drakenstein-munisipaliteit het ’n baie gewilde en aktiewe herwinningsprogram waarvolgens deelnemende inwoners in die gebiede waar die munisipaliteit herwinningsmateriaal oplaai, ’n beginnerspak ontvang. Dié pak bestaan uit vyf deurskynende sakke en ’n inligtingsbrosjure wat aandui watter materiaal in watter sakke geplaas moet word.

Dié materiaal sluit in: plastiek (koeldrankbottels, melkbottels, winkelsakkies, sjampoe-houers, joghurthouers en polistireen); papier (karton, tydskrifte, boeke, ontbytgraanbokse en kantoorpapier); glas (flesse en glasbottels, maar nie spieëls of ruitglas nie); karton-plastiek- houers (langlewemelk-houers en saphouers); metaal (blikkies en metaalprodukte); en elektroniese afval (ou rekenaars, selfone, drukkers en huishoudelike toerusting soos ketels).

Die munisipaliteit versoek deelnemers aan die program om nie ontoelaatbare items soos tuinvullis, babadoeke en so meer in die herwinningsakke te plaas nie.

Die inwoners plaas hul vol herwinningsakke langs hul dromme op dieselfde dag as wat vullisverwydering geskied. Dié sakke word dan deur ’n ander vragmotor opgelaai. Daarna word die herwinningsakke by die sorteringsaanleg in Distillerystraat, Paarl, afgelaai, waar die inhoud in verskillende afdelings gesorteer word. Elke item of produk word dan gebaal en aan die bedryf verkoop om verder verwerk te word om ander produkte te vervaardig.

Bewusmakingsprojekte

Die Drakenstein-munisipaliteit bied gereeld inligtingsessies by skole en organisasies in Drakenstein aan om die publiek oor die voordele van herwinning in te lig, sowel as watter materiaal herwinbaar is en watter eindprodukte vervaardig word. Die DM stel ook inligtingspamflette hieroor beskikbaar. Die munisipaliteit se vullisvragmotors het kentekens en boodskappe wat herwinning bevorder.

Die DM lei sy informele herwinnaars (“wastepreneurs”) by die Paarlse Oordagstasie op om hulle op hoogte te hou van die nuutste ontwikkelings in die bedryf. Dié bekroonde informelesektor-integrasie-projek geniet baie aandag en die herwinnaars word met persoonlike beskermingtoerusting toegerus.

Rol van die publiek, sukses en statistieke

Die Drakenstein-munisipaliteit herwin elke maand tussen 60 en 100 ton vullis. Dié statistieke word maandeliks by die departement van omgewingsake verklaar.

Hoewel die herwinningsprogram baie gewild onder huidige deelnemers is, is die deelnamesyfer in sekere gebiede steeds baie laag. Dus moedig die DM meer inwoners en sakeondernemings aan om deel te neem en dié program te vervolmaak. Dus word veral sakeondernemings aangemoedig om hul verpakkingsmateriaal te herwin en die aparte verwyderingsdiens te gebruik. . Skakel 080 131 3553 tolvry vir nog inligting oor die herwinningsprogram.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article