Opposisiepartye in die Drakenstein-munisipale raad sê hulle was geskok toe Koos le Roux, die raad se Speaker, op ’n geslote raadsvergadering onthul het dat sy kantoor onbeskaamd die regskostes betaal van Conrad Poole, die uitvoerende burgemeester, wat vir bewerings van wanadministrasie ondersoek word.
Paarl Post het by verskeie raadslede van die opposisie bevestig dat Le Roux wel dié onthulling onlangs onder die vertroulike agenda van die raadsvergadering gemaak het.
’n Onafhanklike regsfirma is 15 September vanjaar deur Le Roux se kantoor opdrag gegee om bewerings dat Poole ’n “betaal-vir-werk”-skema onder sy burgemeesterskomitee bestuur het, te ondersoek.
Dié aantygings is vroeër vanjaar deur die GOOD-party in die raad geopper.
Die firma het aan die einde van Oktober sy verslag aan Le Roux se kantoor oorhandig, waarin “prima-facie”-bewyse gevind is dat Poole wel sekere gedragskodes vir raadslede moontlik oortree het.
Op 27 Oktober se raadsvergadering is onder die vertroulike agenda eenparig besluit ’n interne tugkomitee sal gestig word om die firma se bevindinge na te gaan.
Paarl Post het intussen ook vertroulik verneem die aanklaer in die tugverhoor teen Poole is blykbaar ’n voormalige lid van die DA en wat in 2021 uit die party getree het.
Anton Coetsee, die aanklaer, was vir ’n aantal jare ’n DA-raadslid by onder meer die Overstrand-munisipaliteit, waar hy in 2016 tot Speaker verkies is.
Paarl Post het by verdere ondersoek bevind Coetsee het al op verskeie verhore teen DA-raadslede as aanklaer gedien.
Coetsee en Le Roux was albei deel van ’n tugkomitee wat in 2018 bewerings van wangedrag teen Mark Williams, wat in daardie studium die burgemeester van die Knysna-munisipaliteit was, ondersoek het.
Le Roux, wat in daardie stadium op die Drakenstein-munisipaliteit se burgemeesterskomitee gedien het, was die voorsitter van dié tugkomitee terwyl Coetsee die rol van aanklaer vervul het.
Hulle het ook die verhoor gelei van Williams en Peter Myers, nog ’n DA-raadslid, wat in Junie 2018 glo ’n koukusbesluit verontagsaam het. Dit het daartoe gelei dat Eleanore Bouw-Spies, die destydse DA- uitvoerende burgemeester van Knysna, deur ’n wantrouemosie uit haar amp verwyder is.
Williams het Bouw-Spies destyds as burgemeester opgevolg.
’n Raadslid van die opposisie het vandeesweek aan Paarl Post gesê “dit is kommerwekkend dat die DA nou hulself hier in Drakenstein ondersoek”.
“Dit is ’n duidelike geval van konflik van belange. Die aanklaer in die tugverhoor is ’n gesoute voormalige lid van die DA.
“Daar is geen sekerheid dat hy onpartydig sal optree nie.”
Oor die bewerings dat sy kantoor Poole se regskostes dek, het Le Roux by navraag aan Paarl Post gesê inligting van hierdie aard moet voorskriftelik eers by die raad aangemeld word en hy kan nie in hierdie stadium daarop reageer nie.
David Frost, die voorsitter van die Paarl-belastingbetalersorganisasie, het intussen by navraag aan Paarl Post gesê enige bewerings teen munisipale amptenare behoort met die nodige dringendheid hanteer te word.
“Deursigtigheid is hier van kardinale belang en die feit dat aantygings teen die dorp se eerste burger ter sprake is, skep die verwagting dat die ondersoek dan selfs met ’n groter sin van dringendheid hanteer word.
“Ons standpunt is dat die belange van die belastingbetaler beskerm moet word. In die lig van hierdie bewerings wil ons dus klem daarop lê dat verkwistende uitgawes hoegenaamd nie geduld kan word nie.”
Hy sê die organisasie sal die integriteit van die ondersoek teen Poole respekteer, mits openlik en doelgerig daarmee gehandel word.
“Wat die bewerings aangaande die moontlike betaling van die burgemeester se regskoste deur die Speaker se kantoor betref, sal op grond van heersende praktyk en regspraak ernstig na die geldigheid daarvan gekyk moet word.
“In uitsonderlike gevalle waar ’n ampsdraer uit hoofde van sy of haar amp sekere handelinge aangaan wat dan bevraagteken word, kan beskerming by wyse van betaling vir verdediging oorweeg word, maar dit verg dan ’n groter mate van deursigtigheid en openheid.”
Le Roux kon vandeesweek nie aan Paarl Post bevestig of Poole al enige verskynings voor die tugverhoor gemaak het nie.





