Eddie Buxmann van Burgersdrift geleë op die Hermon-pad buite Wellington het verlede Donderdag al die gevare uitgewys. Foto’s: Heleen Rossouw


“Ons noem dit die pad van die dood,” sê Eddie Buxmann terwyl hy op die R44 tussen Hermon en Wellington ry.

Hy wys die een ná die ander gevare wat dié pad vir motoriste inhou aan Paarl Post uit – skaars 48 uur na nóg ’n noodlottige ongeluk so te sê voor sy plaashek.

Buxmann het op die plaas Burgersdrift grootgeword waar hy vandag ’n vee- en koringboerdery bedryf.

“My kinders is die vyfde generasie op die plaas. Die Hermon-pad bied vir baie inwoners in die omgewing toegang tot hul plase, maar bly vir ons ’n daaglikse vrees.

“Jare lank wend ek desperate pogings aan om owerhede se aandag op al dié gevare te vestig en iets aan die saak te doen.

“Ons boere in die omgewing het nie net van ons eie mense al op die pad verloor nie, maar keer op keer noodlottige tonele aanskou.”

So in die ry wys hy na tientalle houtkruisies wat ter nagedagtenis van oorledenes al langs die pad geplant is.

“Onlangs is ’n meisie van Soetendal Primêr naby die skool doodgery. Daar staan haar kruisie,” beduie hy.

Daar was verskeie ander gru-ongelukke waaroor Paarl Post berig het.. In die uitgawe van 7 Desember 2006 sê die destydse hoof van Soetendal Primêr, Esmond Lategan: “Die afgelope 20 jaar het vyf leerders van die skool op die Hermon-pad gesterf. Dit was vyf leerders te veel… ”. In die uitgawe van 22 Januarie 2009 beskryf die hoofopskrif die Hermon-pad as ’n “slagveld” nadat dit die lewe van 12 mense geëis het.

Die noodlot het sowat 10 km buite Wellington getref toe ’n band van ’n oorlaaide Ford-bakkie vermoedelik gebars het. In verlede week se uitgawe word berig dat ’n 60-jarige man op die toneel dood verklaar is nadat sy Polo verlede Dinsdagaand teen ’n Hyundai-vragmotor gebots het.

Buxmann verduidelik dat die pad gevare soos blinde hoogtes, verkeerd gemerkte verkeerslyne en gevaarlike snelheidsperke van 120 km/h insluit. Stadige trekkers steek ook die pad oor omdat boere met grond aan weerskante van die pad spesiale permitte het om hul trekkers heen en weer oor die pad te laat ry.

“Die mense jaag soos duiwels teen dié blinde hoogtes uit terwyl motoriste poog om groot vragmotors naby plaasingange, waar die verkeerslyne verkeerd geverf is, verby te steek.”

Sy grootste kommer is dat die pad nie behoorlike aanduidings van plaasingange naby Wellington self het nie.

’n Anonieme bron, wat op ’n plaas sowat 10 km buite Wellington werk, stem saam en sê daar het reeds minstens 10 noodlottige ongelukke voor die plaas se ingang plaasgevind.

“Sowat drie jaar gelede is padwerk op die Hermon-pad gedoen. Ek het toe al hope briewe oor die verkeerslyne aan owerhede geskryf nadat die werk voltooi is.

“Daar behoort dubbele lyne naby plaasingange te wees wat vir motoriste aandui dat dit onveilig is om ander voertuie hier verby te steek,” meen die boer.

“Daar moet eintlik glad nie stippellyne op die pad wees nie,” meen Buxmann op sy beurt.

“Soveel keer het ek al gevra dat daar selfs net groot borde langs die pad opgesit word wat oor al die blinde hoogtes waarsku.

“Dit is veral noodsaaklik in die reënseisoen in die wintermaande wat soggens mistige toestande veroorsaak.”

Navrae wat Paarl Post aan die provinsiale departement van vervoer en openbare werke gerig het oor of verdere beveiliging van die R44 gedoen gaan word, is nie teen druktyd beantwoord nie.

. The death toll continues to rise on the R44 between Wellington and Hermon, also known as the ‘road of death’.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article