Ek het twee weke gelede, op ’n Donderdagaand, my pa se verjaarsdag in die hospitaal gevier nadat ek ’n besering opgedoen het.
Dit is gewis nie hoe ek gedink het ek gaan sy 68ste verjaarsdag herdenk nie – nie elfuur die aand in ongevalle met knorrige pasiënte om my nie. Ek het beplan om ’n sny koek te verorber en sy gunsteling- bottel witwyn oop te maak. Nietemin, sit ek toe daar soos kieppie en bejammer myself, want nie net het hy verjaar nie, maar is dit ook die vyfde jaar wat ek die lewe sonder hom moet aandurf.
My pa is op 2 November 1955 in Kaapstad gebore, en ná vyf jaar mis ek hom steeds nadat hy in 2018 – kort voor my 20ste verjaarsdag – sy laaste asem uitgeblaas het.
My pa se gunstelingnagereg was appeltert – die goedkoop soort wat Spar of Checkers verkoop het – met rosyntjies. Dié het hy gewoonlik saam met ’n paar lepels vanieljeroomys en ’n koppie tee of ’n Jameson-whiskey geniet, afhangende van hoe laat in die dag dit was.
My pa was nie baie lief vir kosmaak nie, en as klein dogtertjie het ek gereeld saam met hom gaan uiteet. Ek en hy was “creatures of habit,” soos my ma sal sê, en het altyd na een van vyf restaurante gegaan en by die foutlose disse wat ons goed ken, gebly.
Ons het probeer om altyd op dieselfde sitplekke te sit wat ’n mooi uitsig oor die see bied, en het ná aandete – as die suidwester nie té erg gewaai het nie – altyd langs die see gaan stap.
Hoewel dit ’n roetine was waaraan ek gereeld blootgestel is, was dit pal vervelig omdat ek in my pa se geselskap was.
My pa se gunstelingtyd van die dag was sonsondergang, wanneer hy met ’n drankie in die hand kon sit. Wat hom nóg gelukkiger gemaak het, was om dit saam met my te geniet, veral toe ek 18 geword het en ook ’n drankie kon skink.
Nietemin het hy my met ’n valkoog dopgehou om seker te maak ek geniet nie my wyntjie té veel nie, en het gewoonlik ná een dop gevra: “Is jy séker jy wil nog een hê?” My antwoord was dan “ja, Pappa, moenie worry nie”, en daarna sou ons weer op die stoep gaan sit en verder gesels.
My pa se gunstelingskrywers was J. M. Coetzee en die kortverhale van Franz Kafka. Hy het die Cape Times elke dag gelees, op Sondae die Beleef-bylaag in Rapport, en het saam met my ma my eie belangstelling in politieke verslaggewing verdiep.
Die meeste van die boeke wat vandag op my groeiende boekrak pronk, het my pa vir my gekoop met die datums wanneer hy dit aan my oorhandig het. Van dié het hy “bubblegum”-boeke gedoop, omdat dit, volgens hom, “geen substansie” bevat het nie. Nietemin het hy steeds sy kaart geswiep, gewoonlik daardie kere sonder ’n gekla, want dit was vir hom belangrik dat ek ’n liefde vir lees ontwikkel.
Sommige dae was ek en hy later sonder woorde om vir mekaar te sê, en dan het ons sy Backgammon-stel of pak kaarte uitgehaal en begin speel, en ná een of twee rondes het hy gewoonlik moed opgegee omdat hy verloor het.
Oudergewoonte het hy laggend gesê: “Jy wen altyd, net soos ouma Net. Ek kan nie teen julle speel nie!” Daarna het hy maar weer die bord gepak of kaarte uitgedeel en reggemaak om wéér te verloor.
Volgens my pa het hy nie gedink hy sou ’n goeie pa wees nie, maar toe ek per ongeluk my verskyning maak, was hy kinderlik opgewonde.
Toe hy my die eerste keer in die broeikas tussen ’n see van ander skreeuende babas sien, het hy vir die verpleegsters geskree “daardie is my kind; daardie is my kind!” en gevra of hy my maar kon vashou.
Hoewel ek nog tyd saam met my pa sou wou deurbring voordat ek sy as oor die oseaan gestrooi het, is ek gelukkig dat ek wel 19 jaar se herinneringe van hom het.
Dié herinneringe bêre ek saggies weg sodat ek dit enige tyd kan besoek, en al is dit hartseer om die brose boks elke nou en dan oop te maak, voel ek bevoorreg om ’n pa soos mý pa te kon hê.
My pa swem nou saam met die visse langs die Wes-Kaapse kus, hy sweef saam met die tornyne, duik diep saam met die robbe, jag saam met die haaie en bak in die son saam met die dassies.
Hy is waar hy moet wees. Hy is vry.




