Geniet ’n Sterrekyk-piekniek by die Taalmonument voordat die winter begin.Foto:


Terwyl die somer einde se kant toe staan, kan besoekers die skitterende sterrehemel – spesifiek die veelkleurige “Juweelkissie” – van nader leer ken tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se laaste Sterrekykpiekniek op Paarlberg op Saterdag 26 Maart.

Dit beloof om ’n feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees, en ’n pragtige sonsondergang en ’n gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk is ingesluit. Daarbenewens is die aand ten bate van ’n goeie saak.

Gaste sal die heelal kan verken met behulp van die Orion-observasiegroep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die fokus is op die “Juweelkissie” – ’n oop sterrebondel knap langs die Suiderkruis – wat danksy haar skouspelagtige kleure ’n fees vir die oog is en as een van die mooiste voorwerpe in die suidelike hemelruim beskou word. Die “Juweelkissie” is die eerste keer deur Nicolas Louis de Lacaille beskryf terwyl hy astrometriese waarnemings gedoen het vir sy 1751-1752 suidelike sterrekatalogus Cœlum Australe Stelliferum aan die Kaap die Goeie Hoop in Suid-Afrika.

Die pieknieks is gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en Skiereiland geniet. Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of ’n piekniekmandjie by die ATM-koffiehuis by 082 216 2510 of info@atmkoffiehuis.co.za te bestel. Die koffiewinkel sal ook verversings verkoop.

Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken. Buitelug-speletjies en speelparke is vir kinders beskikbaar.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van “Laat ons Lees!”, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning te skenk.

Die geleentheid begin om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R10 vir onder-18’s. Kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking by 021 863 0543/4809 of per e-pos na kommunikasie@taalmuseum.co.za is noodsaaklik sodat vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word.

Sterrekykpieknieks sal afgelas word as die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae op die dag self. Kaartjies wat reeds betaal is, kan oorgedra of vergoed word.

Onthou asseblief verkykers, warm kleding en maskers. Besoek taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokol.

Skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg die ATM op Facebook vir nog inligting. . Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article