Veertjie is lief vir middagslapies en om snoesig teen Heleen te knuffel.

Credit: SYSTEM

“Die verlange na my Veer-beer raak nou gans en al te erg. Ek droom gereeld dat ek haar vind en weer vashou,” vertel die Paarl Post-joernalis, Heleen Rossouw.

Haar vyf jaar oue bont kat, Veertjie, word sedert einde Januarie vermis – in haar woonstel in Bo-Burgstraat, Wellington.

“Sy is ’n bekende rondloperkat wat al minstens vyf keer oor die afgelope 18 maande by Wellington-dierebeskermingsvereniging (DBV) aangemeld is, vanweë Veertjie maar ’n egte avonturier is,” bieg sy.

“Ek het dit elke keer reggekry om haar self op te spoor of soms sou sy bloot ná dae self terugkeer huis toe wanneer sy lus het.”

Heleen meen dat Veertjie liefs dae lank by ander gaan kuier en dat die mense haar selfs verwelkom en by geleenthede haar maar huiwerig terugbesorg het.

“Sy is só ’n liefdevolle en sosiale kat. Sy het die oulikste persoonlikheid en is lief vir gesels, om te liefkoos teen ’n mens te skuur. Sy baljaar graag buite in mense se geselskap wanneer ’n braaivuur aangesteek word.”

Sy besef dat mense sal wonder of Veertjie dalk nie meer by haar wíl wees nie. Maar sy glo hulle twee deel ’n spesiale band en dat Veertjie bloot bietjies te ver gaan baljaar het.

“Veertjie is ’n Danville-kat wat ek by ’n jong vrou aangeneem het. Vandaar het sy drie jaar saam met my in Kempton Park, Johannesburg, gewoon.”

In 2021 is Heleen se droom om Kaap toe te verhuis bewaarheid toe sy in Julie ’n pos by Paarl Post losgeslaan het.

Gou was haar Kia Picanto vir die lang trek van Gauteng gepak, en Veertjie snoesig tussen die tasse daarby.

“Op die pad van Kempton stop ons toe by ’n vulstasie in Winburg. Hier het ’n verskrikte babatjie my in die badkamers verras. Ek kon dit nie oor my hart kry om weer die pad aan te durf en haar net só agter te laat nie.”

So is dié Babakat (soos die nuweling gedoop is) saam in die kar. Nodeloos om te sê, meen Heleen, het Veertjie ’n verregaande jaloesie en verafskuwing teenoor dié kat ontwikkel en bly kweek.

Veertjie het al hoe meer skaars geraak en haar gereeld vervies wanneer Babakat haar spelerig teister.

“Sy kon Baba eenvoudig nie verdra nie. Sy het selfs ’n persoonlikheidsverandering ondergaan en byna permanent gegrom wanneer Baba in die nabyheid was, ook so soms wanneer ek haar wil knuffel.”

Sy het al oorweeg om ’n liefdevolle gesin vir dié nuweling te vind wat vir Baba kan aanneem om uiteraard nie meer ’n bedreiging vir Veertjie in te hou nie.

“Maar die lewe raak só besig, dit het net nooit gerealiseer nie.”

Verlede jaar het sy vir albei katte nuwe naamplaatjies aangeskaf. Maar toe Heleen vroeër vanjaar ná die Desembervakansie haar katte by hul oppasser afhaal, was Veertjie se nek alweer kaal en dié splinternuwe bandjie is toe skoonveld.

“In Januarie was sy weer soek, maar nadat ek die strate ingevaar en na haar geroep het, het ek haar stemmetjie in ’n buurman se erf op die hoek in Bo-Burgstraat gehoor en haar opgespoor.”

Van toe af het Veertjie al hoe meer skaars geraak en gereeld haarself vervies wanneer Babakat haar spelerig teister en so te sê gevlug.

“Maar dan kom sy getrou weer terug,” vertel sy verlate.

“Die laaste keer wat ek haar gesien het, was in die eerste week van Februarie. Mense sal dink dis stupid, maar ek is oortuig sy lewe nog.

“Die dag toe ek by Bo-Burg intrek en Veertjie in die woonstel neerlê, het ek die Here se beskermende bloed oor haar gepleit en dat sy altyd veilig van haar avonture sal terugkeer.”

Wat haar verder vertroos, is dat ’n Berg-en-Dal-inwoner gesê het dat ’n kat met sterk trekke na Veertjie gedurende Maart al by hulle gesig kom wys het.

“Die vrou sê toe my beskrywing en video’s van Veertjie het ongelooflike trekke na dié vreemde kat wat by hulle kom inloer.

“Sy belowe toe sy sal my oombliklik laat weet indien Veertjie weer haar verskyning maak. Maar toe ’n paar reënbuie vir ’n week lank daarna uitsak, het die vrou haar nooit weer in hul erf gewaar nie.

“Nou is ekback to square one en ek sal volhard in my geloof dat ek en Veertjie-beer herenig sal word!”

Heleen vra dat indien enigiemand in Wellington Veertjie gewaar of selfs moontlik besluit het om dié rondlopertjie te huisves, om die kat-kind aan haar terug te besorg of hulle by haar aan te meld.

“Veertjie is ’n bruin Tabby-kat met groot gemmervlekke, ’n wit kennetjie met ’n grys-en- swart gestreepte stert. Sy reageer sterk op haar naam en sal selfs saggies miaau en spin (purr) wanneer sy naderkom.”

  • Kontak Heleen by 081 597 3850 indien Veertjie se doen en late aan jou bekend is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article