Jaar in en jaar uit teiken misdadigers onophoudelik skole in Drakenstein. Die plekke van onderrig word só gevandaliseer en besteel dat die skole nie meer kan byhou om die skade finansieel te dek nie. Die hartseerste hiervan is dat leerders aan die kortste ent trek.

Twee skoolhoofde, onderskeidelik van ’n laerskool en hoërskool in Wellington, kan getuig dat hul skole al vir jare onder misdadigers swaar trek. Hulle het al alles in hul vermoë gedoen om die plundery te stop, maar is nou meer as ooit desperaat vir die gemeenskap om saam te staan en skole teen die misdade te beskerm.

“Die skole gaan die afgelope tyd gebuk onder inbrake en vandalisme, wat hulle duisende rande uit die sak jaag. Dit is veral rekenaartoerusting wat gesteel word, soos skootrekenaars, dataprojektors en rekenaars. Die gesteelde goed word vermoedelik vir ’n appel en ei verkoop aan mense wat dit weer op ’n mark teen ’n baie goeie prys verkoop.”

Volgens die hoofde doen gerugte die ronde dat die mense aan wie die gesteelde artikels verkoop word, heel moontlik dwelmsmouse of buitelanders is.

Hoewel die misdadigers groot voordeel uit die inbrake trek, veroorsaak dit enorme probleme en ongerief vir die skole. Hulle voeg by dat albei skole finansieel swaar trek omdat baie ouers nie met skoolgeld kan byhou nie.

“Die hartseer van die saak is dat lede van die gemeenskap weet wie dié mense is, maar te bang is om te praat. Ons vermoed ook dat inligting oor die skole deur leerders aan die diewe oorgedra word. Vermoedelik is ook familielede van ons leerders by die inbrake betrokke. Die gemeenskap moet opstaan teen hierdie mense wat geen respek vir ander mense se eiendom en besittings het nie.”

Die skoolhoofde pleit dat die gemeenskap hande met hulle moet vat om die misdadigers vas te trek. Aangesien die skole so ’n groot rol in die gemeenskap vervul, voel die skoolhoofde ook samewerking in die gemeenskap sal tot voordeel van die kinders se toekoms wees.

“Genoeg is genoeg. Kom ons wys vir hierdie mense ons gaan nie meer dié soort misdaad duld nie en gaan gewis teenoor hulle optree. Die gemeenskap se samewerking kan tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die vermeende misdadigers lei. Skelms in die gemeenskap kan nie skole so afbreek nie.”

Unathi Booi, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê die twee skole het onlangs altesaam nege inbraak-voorvalle by die WKOD Veilige Skole aangemeld. Sy bevestig dat die misdadigers net toestelle soos rekenaars, skootrekenaars en dataprojektors steel. ’n Polisie-ondersoek is aan die gang.

“Die WKOD Veilige Skole-subdirektoraat werk saam met die skole om veiligheidskwessies die hoof te bied. Dit is belangrik vir gemeenskappe om eienaarskap van skole in hul gemeenskappe te neem en te besef dat hulle ook ’n rol in die beskerming van die skole in hul gemeenskappe vervul.

“Ons doen ’n beroep op alle gemeenskappe om ons asseblief by te staan deur verdagte aktiwiteite of die verkoop van goedere wat by skole verkry is onmiddellik by die SAPD aan te meld.”

As enigiemand inligting het rakende gesteelde eiendom van skole en misdadigers wat skole in Drakenstein teiken, kan hulle die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, skakel.. Year in and year out, criminals incessantly target schools in Drakenstein. The places of education are so vandalised and robbed that the schools can no longer keep up financially to cover the damage.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article