Tonele soos dié is al jare lank onder die Markstraatbrug in die Paarl te sien, maar niks word gedoen om die “plakkerskamp” in die hartjie van die Paarl te stuit nie.

Credit: SYSTEM

Jaar in en jaar uit sukkel sakeondernemings in die Markstraatbrug-omgewing met dieselfde probleem — haweloses wat by die brug plak en ondernemings se kliënte letterlik wegjaag.

Oor die jare heen is al baie kere aan die Drakenstein-munisipaliteit se deur geklop met klagtes, maar dit voel vir die sake-eienaars asof hul klagtes op dowe ore val.

Paarl Post het al verskeie kere daaroor berig – die onrus, onwettigheid en onveiligheid wat haweloses na die omgewing lok. Selfs moord en verkragting het al onder die brug-plakkers plaasgevind.

Tog blyk dit dat die munisipaliteit hom nie aan die probleem steur nie.

Brian Alley, ’n gastehuiseienaar, is gefrustreerd met die situasie. Besoekers aan sy gastehuis kon onlangs nie meer die gedrag van die haweloses hanteer nie. Hulle het opgepak en ander verblyf gaan soek, want hulle voel nie veilig nie.

“Ek het seker al ’n duisend briewe aan die munisipaliteit geskryf. Partykeer gaan dit baie erg daar. Ek het ’n gastehuis daar op die wal [teen die Bergrivier]. Wat gebeur het – ek het mense uit Meksiko gehad. Baie van daai mense het net gewaai. Hulle sê hulle kan nie in ’n plakkerskamp bly nie. Hulle voel onveilig en dit lyk nie lekker nie en die mense [haweloses] vloek verskriklik. En dit is ’n geskree en ’n gebaklei. Dit is erg, want dan waai hulle [die toeriste] en dan verloor ek aanmekaar geld. En dit gebeur gereeld.”

Alley sê hy het sy hart in 2018 teenoor die munisipaliteit uitgestort en sy pleidooie gedeel.

Hy sê ’n munisipale amptenaar het hom per e-pos ingelig oor “goeie nuus” – ingenieurs van die munisipaliteit het glo besluit hulle sal vroeg in 2019 klippe in sement plaas sodat haweloses nie daar sal kan slaap nie.

Tot dusver is daar nog geen teken van enige poging om die klippe in sement, soos die munisipaliteit self voorgestel het, op te rig nie. Dis net woorde sonder enige daad.

Buiten dat die haweloses mors en ’n negatiewe impak op sakeondernemings in die omgewing het, voel Alley dat die munisipaliteit toerisme in die steek laat.

“Ek voel net die munisipaliteit doen niks om ons met toerisme te help nie. Hulle wil toeriste hê, maar doen niks. Ek het al alles gedoen en selfs met wetstoepassing gepraat en briewe geskryf, maar niks gebeur nie.

“Die mense bly steeds sterk onder die brug. Hulle kom met voorstelle, maar niks het nog gebeur nie. Beloftes, ja, maar niks nie. So, hoe affekteer dit ons? Dit maak ons besigheid dood.”

Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste in die Drakenstein, sê die munisipaliteit voer weekliks optredes by die Markstraatbrug uit om die haweloses te verwyder en die gebied skoon te maak.

Hy voeg by dat die amptenaar met wie Alley in verbinding was, nie meer in diens van die munisipaliteit is nie.

“Alle klagtes wat mnr. Alley by ons beheerkamer aanhangig maak, word dadelik opgevolg en die hawelose mense word verwyder.”. Year in and year out, businesses in the Market Street area struggle with the same problem of homeless people living under the bridge, literally chasing away their customers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article