Swak diens in Kaapstad se hawe bedreig steeds die plaaslike vrugte-uitvoerbedryf.


Met die piek-uitvoerweke op hande laat die chaotiese situasie by die Kaapstad-hawe uitvoerders en vrugteprodusente paniekerig – dít terwyl bedryfsrolspelers maande lank alles in hul vermoë doen om ’n herhaling van ’n soortgelyke situasie van vorige seisoene te voorkom deur daagliks met Transnet te skakel, bedryfsinligting uit te ruil en waar nodig hulp aan te bied.

Hortgro, ’n organisasie wat toesig hou oor die produksie, navorsing en tegnologie, kommunikasie, markte en transformasiebehoeftes van die kern- en steenvrugbedrywe van Suid-Afrika, het in ’n persverklaring gesê tot nou kon Transnet nie sy eie ondernemings en keerdatums haal nie, met voortgesette verskonings soos windvertragings en toerusting wat breek.

So het al drie die mobiele hyskrane by die MPT in week 52 gebreek, wat geweldige vertragings teweeggebring het. Die sewe bykomende rubberwielbokhyskrane, wat reeds in Desember afgelewer en in gebruik sou wees, sal nou eers later in Januarie operasioneel wees.

“Vrugtebedryfrolspelers doen al die moontlike om met Transnet saam te werk en oplossings vir kwelpunte te vind. Die vrugte-uitvoerbedrywe het selfs, in samewerking met die Wes-Kaapse regering, aangebied om werktuigkundiges te sekondeer om hawetoerusting te herstel en in stand te hou. Dit is ná aanvanklike belangstelling met ’n onderneming afgekeur sodat sodanige kapasiteit self geskep sou word.

“Ongelukkig lewer geen van die voorstelle en ondernemings van Transnet dat dinge “anders en beter” bestuur sal word, tans die gewenste resultate nie.

“Die vrugtebedrywe wil sien dat mense aanspreeklik gehou word vir onbevoegdheid en blote swak bestuur wat tot onaanvaarbaar lae vlakke van deurset in die hawe lei. Produktiwiteit by die Kaapstad-hawe is tans op rekordlae vlakke. Daar moet gevolge moet wees vir wat as ekonomiese sabotasie beskou kan word en die voortbestaan van die bedryf, produsente se winsgewendheid en werksgeleenthede bedreig en landelike gemeenskappe destabiliseer.”

Hortgro sê verder Suid-Afrika verloor ook sy markaandeel en sy reputasie as ’n betroubare verskaffer van hoëgehalte vrugte, terwyl gehalte-eise toeneem.

Intussen poog die vrugtebedrywe om skepe na Port Elizabeth te her-roteer om die onmiddellike druk in die Kaapstad-hawe te verminder.

’n FruitSA/Agbiz-skrywe is aan ministers Pravin Gordhan en Ebrahim Patel gestuur om die krisis en voortgesette onaanvaarbare situasie onder hul aandag te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article