In die hart van Drakenstein, waar die gure weerstoestande tans heers, word noodbehuising aan haweloses in die Toringkerk se saal verskaf. Hierdie inisiatief deur die plaaslike organisasie Heart NPO toon die gemeenskap se toewyding om die minderbevoorregtes te ondersteun.
Mandie Erasmus, stigterslid van Heart NPO, het twee jaar gelede ’n geestelike uitreikgroep begin wat sedertdien weekliks by die Toringkerk-saal en ander plekke plaasvind. Hierdie byeenkomste bied nie net geestelike ondersteuning nie, maar ook maatskaplike dienste en praktiese hulp.
“Ons betaal vir hulle om in te skryf vir vaardigheidsontwikkeling- en opleidingsprogramme,” verduidelik Mandie.
Die onlangse koue front het die behoefte aan hierdie dienste verhoog. “Dit is verskriklik daar buite. Donderdag het van die mense papnat en honger hier aangekom, siek ook,” deel Mandie. Sy en haar span het die kerk genader vir hulp, wat gelei het tot die gebruik van die Toringkerk se saal as ’n tydelike skuiling.
Tussen 80 en 100 mense vind nou elke aand ’n veilige hawe in die saal tydens die voortslepende storms.
“Ons deure gaan eers vroegaand oop en dan moet die haweloses wat hier om hulp kom aanklop weer vroegoggend uit die saal uit,” verduidelik Mandie.
“Ons sit vir hulle kartonne uit in die saal om op te lê met ’n warm kombers, want ongelukkig sou dit nie moontlik wees om in so ’n kort tydperk genoegsame matrasse in die hande te kon kry nie.”
“Die haweloses ontvang hier ook ’n warm maaltyd en droë klere. Die aand eindig met ’n fliek, waarna dit tyd is vir slaap. Die volgende oggend word hulle ontbyt gegee, waarna die saal skoongemaak word vir die volgende aand se sessie.”
Die projek sal voortduur tot volgende Dinsdag (16 Julie). Mandie sê wanneer die haweloses vir die nag aankom, word hulle eers deursoek vir wapens of ander ongewenste goedere soos drank of dwelms, om almal se veiligheid te verseker.
Ongelukkig, ook om veiligheidsredes, sluit die projek egter sekere individue uit, soos minderjariges en mense met geestesversteurings.
“Aangesien dit ’n saal is met ’n klomp mense daarin, mans en vroue, wil ons nie enige kanse waag nie,” verduidelik Mandie.
Mandie en haar span is baie dankbaar teenoor die gemeenskap wat reeds na hulle uitgereik het met ruim skenkings om die projek van die grond af te kry. Sy doen wel ’n beroep op enigiemand wat ’n bydrae wil lewer, soos nie-bederfbare kos, klere en komberse, om dit by die Toringkerk se saal af te gee of haar by 062 537 5206 te kontak.
Sy het afgesluit deur te sê dat hierdie inisiatief ’n goeie voorbeeld is van hoe gemeenskappe saamstaan in tye van nood, om die menslikheid en omgee van die Drakenstein-gemeenskap te beklemtoon.


