Opgewekte stemme van kleuters oral in St. Patrickstraat in Weltevrede skets ’n prentjie van bure wat mekaar se laste dra en ook in mekaar se vreugdes deel.

By St. Patrickstraat 23 is dit egter ’n sombere leegheid wat jou reeds by die voorhekkie omhels en binne toe lei. Want hier woon ’n gesin met baie seer en trane wat vrylik vloei as hulle die Sondag van 4 Maart herroep.

Dis met ’n hamer in die hand die dag voor Goeie Vrydag in die motreëntjie waar ek hom kry, besig om die heining en hekkie reg te maak ná die tragiese ongeluk wat hul lewe onherroeplik verander het. Met sy eie gedagtes probeer hy die stukke nou bymekaar kry van ’n gesin wat uitmekaar geruk is deur ’n wegholtaxi wat sy jare lange skoolliefde en kleinseun geëis het.

Lodewyk Louw het my net so onderlangs gegroet.

Bettie Louw (49), wat in die tragedie gesterf het, sou vanjaar haar 50ste verjaardag gevier het, vertel ’n familielid, Lea Money. Die onlangse tragedie van ’n taxi wat dwarsdeur ’n huis gebars en vier lewens geëis het, lê egter vlak in die geheue van Lea, voor wie se oë dit afgespeel het.

Sy vertel: “Ons familie het die Sondag van 4 Maart ’n begrafnis bygewoon. Ná die begrafnis het vriende en familie by Bettie en Lodewyk se huis kom kuier. Bettie het haar kleinseun Lodin (byna twee jaar oud) voor die huis by die voordeur tussen haar bene gevoer terwyl almal gelag en gesels het. Haar jonger dogter, Becayla (18), het toe ook kom aansluit. Bettie het toe haar oudste dogter, Louwena, Lodin se ma, kombuis toe gestuur om iets te gaan haal.”

Louwena vertel hartseer: “Ek het net vier treë gegee tot in die kombuis. Toe ek omkyk, staan die taxi in ons sitkamer met ’n klomp bakstene bo-op mammie en my baba, Lodin, onder die taxi vasgepen. Dood. Ek het in die bestuurder se oë gekyk. Hy het uitgespring en weggehardloop. My ma was onder die klomp bakstene begrawe, maar het nog gelewe. Stukke van die bakstene het tot in die slaapkamer gelê op die beddens waar my pa ook geslaap het. Alles het so skielik gebeur.”

Die spoor van die wegholtaxi lei net om die draai van St. Patrickstraat na St. Thomasstraat waar nog ’n familie ook probeer antwoorde soek ná die dood van ’n seun. Sy ma was te emosioneel om te praat.

Donwill Claassen was net 13 jaar oud en het reeds potensiaal getoon om ’n jong entrepreneur te word deur met duiwe te boer en ook al sy maats se fietse reg te maak.

Sondagaand 4 Maart was dit ook sy laaste rit op sy fiets toe die wegholtaxi hom in St. Patrickstraat eerste getref en hy binne minute gesterf het.

Hy was ’n gr. 7-leerder aan St. Albans Primêre Skool.

Die vierde slagoffer, Charles van der Westhuizen, is ná die ongeluk in die hospitaal opgeneem, maar het drie dae later aan sy beserings beswyk.

Die beskuldigde, Lantu Nkamana (27), het op 28 Maart die tweede keer in die hof verskyn. Die saak is tot 29 Mei uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article