My hart is stukkend – absoluut stukkend – vir die toestand van ons dorp, waar my familie al drie geslagte lank woon.

Die finale spyker in die kis was die toestand van ons rivier ná die naweek.

Alles gaan al die afgelope vyf jaar net agteruit. Ons buurte is toegegroei onder onkruid; paaie se oppervlaktes afgeskeep; ons strate vuil. Die munisipaliteit laat net toe dat boemelaars oral dronk rondlê – dit op sigself is ’n groot bydraende faktor tot die stygende misdaad.

Dromkrappers loop helder oordag met hul volgepakte trollies oral en in die middel van die straat en laat ’n groot gemors agter hulle en die wetstoepassers ry net voort in hul air-conditioned karre.

Ons betaal deur ons nek vir dienste wat nie gelewer word nie.

En kyk hoe het die rivier gelyk ná die naweek se malligheid daar.

Die munisipaliteit behoort hom te skaam. Maar sal hy hoegenaamd omgee? Die grootkoppe daar sit maar alte gemaklik agter hul lessenaars en kry reusesalarisse. Hulle het geen gevoel meer vir die gemeenskap wat hulle veronderstel is om te dien nie.

En nee, ek is nie rykmanskind teen Paarlberg nie – ek is ’n eenvoudige mens van Paarl-Oos wat lief is vir sy dorp.


J. Adams,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article