Vrywillgers het Maandag en Dinsdag hul tyd letterlik “afgeknyp” om byna 150 plaaslike leerders se hare gratis te sny en te vleg voor Woensdag se heropening van skole.
Hierdie geleentheid is deur die organisasie sonder winsbejag #joukindismykind aangebied vir kinders van Chicago, Lantana, Grebestraat en ander gebiede in Paarl-Oos.
Sommige van hierdie vrywilligers is ouers wat nie net hul eie kinders se hare gesny het nie, maar ook ander kinders se hare. Volgens Brandan Jacobs, stigter van dié NPO, gebruik hulle hierdie geleentheid om terug te gee aan die gemeenskap.
“Ons het op Facebook baie positiewe kommentaar van inwoners ontvang,” sê Jacobs.
Volgens hom het 50 kinders Maandag in Smartie Town bymekaargekom en twee haarkappers het ingespring om hul hare te sny sodat hulle slaggereed kan wees vir die skool wat vandeesweek begin het.
Dinsdag het byna 100 kinders bymekaargekom in Magnolia, met vyf haarkappers wat vrywillig hul tyd en diens aangebied het.
“As dit nie vir beurtkrag was nie, sou daar meer kinders opgedaag het.
“Al was dit warm gewees, het ons aangehou om die goeie werk vir die gemeenskap van Magnolia te doen. Ek wil ook net dankie sê vir die ondersteuning, selfs gedurende beurtkrag, en vir elkeen se geduld,” sê Jacobs.
Volgens hom het elke kind geduldig sy/haar beurt onder die bome buite sy huis afgewag.
Rowane Jacobs, ’n gr. 11-leerder van Magnolia, het ook sy dank aan die #joukindismykind-organisasie betoon.
“Ek voel gereed vir die skool,” sê hy.
Tyler Claassen, ’n gr. 3-leerder van Magnolia, vertel hoe hy dit geniet het om sy hare te kon laat sny sonder om te betaal.
“Dankie #joukindismykind, ek voel ook gereed vir die skool.”
Nathan Jacobs, Adrian Botha, Fransisco Plaaitjies, Shakiel Liebenberg, Gustav Skippers en Duran Grace was die haarkappers.
Die organisasie se lede bestaan uit Jacobs (stigter), Mary Liebenberg, Leigh-Ann Adams, Megan Botha en Natasha David van Smartie Town en Magnolia.





