Ongeloof en afgryse is my reaksie op die roekelose toestemming van die Drakenstein-munisipaliteit oor die verlenging van handelsure van kuierplekke tot 04:00 – en dít in ons dorp met sy hoë geweldsmisdaadsyfer! Let op die aantal noodlottige motorongelukke in die vroeë oggend-ure!
Dit is ’n feit dat onvoldoende hulpbronne vir wetstoepassing en in trauma-afdelings van hospitale bestaan, maar nogtans word hierdie “toegewing” gemaak.
Die regte van inwoners t.o.v. geraas, drankmisbruik en asosiale gedrag word misken, om nie eens te praat van die nadelige uitwerking op gesinne en families nie.
Al die regulasies waaraan voldoen moet word, geld net op die betrokke perseel, maar beskerm niemand in die omgewing nie. Wie, behalwe die eienaars van die kuierplekke, trek voordeel uit hierdie omstrede besluit van die Drakenstein-munisipaliteit?
Gewis nie die inwoners van ons dorp nie!




