Huis Andrew Murray (HAM) is sedert 1898 ’n heenkome vir meestal wetsbestede kinders en is tot vandag ’n veilige hawe wat ’n holistiese benadering toepas. Hulle het die storm van die pandemie oorleef, en is steeds op soek na gepaste pleegsorgouers om hul kinders ’n gevoel van aanvaarding te bied.
Karen Petersen, HAM se bestuurder vir bemarking en geldinsameling, vertel hoe kinders ingevolge Art 150 van die Kinderwet 38 van 2005 in hul sorg geplaas word. Hulle versorg tans 148 kinders by hul perseel geleë op die hoek van Willem Basson- en Blouvleistraat in Wellington.
Dié kinders woon daagliks skool by.
“Ons het ’n vroeëkinderontwikkeling-program op die perseel waar sewe kleuters inskakel, met 11 voorskoolse (gr. RR- en gr R) leerders; 80 laerskool-kinders en 38 hoërskoolkinders. Ons het tans een student in Boland-kollege en 13 kinders wat voorlopig in pleegsorg uitgeplaas of in hul ouers se sorg herstel is. Dit behels 75 meisies en 73 seuns. Ons is geregistreer om 155 kinders te akkommodeer.”
Wanneer kinders by HAM opgeneem word, vind ’n holistiese assessering plaas waar die kind se sterk punte en ontwikkelingsgebiede uitgewys word.
“Ontwikkelingsgebiede word in individuele terapie en ontwikkelingsgroepe aangedurf. Volgens die sterkpunt-benadering word kinders se ‘behoort aan’, bemeestering, mededeelsaamheid en onafhanklikheid gemeet en in ’n Individuele Ontwikkelingsplan (IOP) vervat.”
Sy voer aan dat so ’n IOP dan deel van sy/haar unieke plan vorm vir die tyd wat hulle by HAM deurbring.
“Ons assessering bepaal ook na watter soort skool/onderriginstansie die kind moet gaan waar hy/sy die geleentheid sal kry om optimaal te ontwikkel. Ons gee hulle ook die geleentheid om ná skool te gaan studeer of bied hulp om ’n werk of internskap te verkry.”
Die kinders het twee studietye per dag en word die geleentheid gegee om aan sport- en kultuuraktiwiteite by die KJSS en ook by hul onderskeie skole deel te neem.
Pleegsorg by HAM
Petersen verduidelik dat HAM nie juis “pleegsorg” as sodanig aanbied nie, “maar ons het ’n naweek- en ’n vakansie-ouers-program”.
Indien iemand belangstel om ’n naweek- of vakansie-ouer te word, kan hulle die kantoor kontak, waar ’n paar vorms wat voltooi moet word, uitgereik sal word.
“Ons verwag van aansoekers om ’n polisie-klaring te kry en ook ’n vorm 30 te voltooi ten einde te verseker dat die mense se name nie in die kinderbeskermingsregister verskyn nie.
“ ’n Maatskaplike ondersoek moet ook deur ’n betrokke gesinsorgorganisasie in die omgewing waar die aansoekers woon, gedoen word.”
HAM is ’n program van Badisa en gebou op Christelike waardes.
“Ons verwag dus van ons naweek- en vakansie-ouers om ons waardes te deel en versoek dat ’n predikant/geestelike leier ook ’n vorm vir die betrokke gesin voltooi.
“Dit is ’n taamlik lang proses en voornemende naweek-/vakansie-ouers word aangeraai om die proses so spoedig moontlik te begin indien hulle belangstel.”
Hoe word kinders en die ideale aansoeker gepas?
“Ons kyk na die profiel van die gesin en bepaal of daar ’n kind is wat moontlik by die gesin se profiel inpas. Daar is nie perfekte profiele nie – ons soek mense wat ’n verskil in ’n kind se lewe wil maak en bereid is om ’n ekstra myl of twee saam met so ’n kind te stap.”
Petersen sê aansoekers kan bepaal of hulle ’n spesifieke kind wil uitneem en of hulle ’n spesifieke ouderdom/geslag kind wil neem.
Daar is soms gevalle dat die program nie uitloop soos wat mense dalk verwag nie.
“Wanneer naweek- en vakansie-ouers aan ’n kind toegewys is, koester kinders gewoonlik ’n verwagting dat hulle gereeld by die betrokke gesin gaan ‘kuier’. Hulle eien die gesin toe aan hulself en praat van ‘my mense’. Wanneer so ’n plasing egter misluk en kinders teruggebring word of die gesin stel nie meer belang om die kinders te neem nie, ervaar die kinders weer verwerping, en dit is traumaties vir hulle.”
Tog is daar altyd ’n silwerrandjie in sommige gevalle.
“Ons kinders word uit bekende omgewings met baie slegte omstandighede verwyder en by ons geplaas. Wanneer ons moontlike vakansie-ouers identifiseer (en as dit kan ontwikkel tot pleegsorg, is dit ’n groot bonus), bied dit stabiliteit in die kinders se lewe en gee dit hulle die geleentheid om ’n gesonde band met gesonde rolmodelle te vorm.”
Hoe het die HAM die impak van die Covid-19-inperkings ervaar?
Jaco Holtzhausen, die bestuurder van HAM, verduidelik dat die effek tweeledig was: “Die verlengde ure wat kinder- en jeugsorgwerkers moes werk as gevolg van kinders wat nie kon skoolgaan nie, het ekstra vergoeding aan personeel vereis.
“Tweedens was die moraal van die personeel weens 55 ure per week se aaneenlopend werk ’n hewige uitdaging vir hulle.”
Hy sê die direkte koste van Covid-19 beloop R1 003 845.
“Mense wat belangstel om ’n naweek- of vakansie-ouer vir een of meer van ons kinders te word, kan e-pos stuur aan vakkundige@andrewmurray.org.za of mw1@andrewmurray.org.za.”





