Grootskaalse bedrog is besig om by die Drakenstein-munisiplaiteit se Daljosafat-verkeerssentrum te ontrafel.

Dit het weer die kop uitgesteek met ’n polisieondersoek na die onregmatige toekenning van bestuurstoetse aan veral buitelandse burgers.

Volgens ontstoke werknemers van die toetsstasie (wat om verskeie redes nie hul naam wil noem nie), is die toetsstasie vrot van korrupsie en die senior bestuur draai bloot ’n blinde oog hierop.

Die Valke ondersoek tans verskeie klerke by die Daljosafat-toetssentrum wat glo teen betaling onregmatige toekenning van afsprake vir bestuurslisensies maak.

Hierdie klerke neem glo betalings van R450 per afspraak om vir bestuurskole, wat aan buitelanders behoort, voorkeur met afspraaktye te gee.

Dit is buiten die amptelike fooi wat hulle vir die afsprake moet betaal.

Dit gebeur glo alles terwyl regmatige aansoekers maande lank moet wag om ’n afspraak te kry om hul leerlinglisensie te skryf of om vir hul bestuurslisensie uit te passeer.

Die Valke het verlede week ook op die padwaardigheids-afdeling van die toetssentrum toegeslaan waar onpadwaardige voertuie deur beamptes padwaardig verklaar is.

Die fluitjieblasers sê egter niks het verder in hierdie ondersoek gebeur nie en die beamptes wat hiervoor verantwoordelik is, is steeds daar aan diens.

Ander bewerings word gemaak dat klerke ook teen betaling vir buitelanders, wat nie die nodige wettige dokumentasie vir verblyfreg in Suid-Afrika het nie, onregmatig afsprake vir bestuurslisensies maak.

By navraag aan die Drakenstein-munisipaliteit hieroor het die DM gesê hy dra geen kennis oor huidige ondersoeke teen klerke nie.

Hulle het wel gesê dit het onder hul aandag gekom dat buitelanders na bewering met vervalste dokumente om bestuurderslisensies kom aansoek doen het.

Dit is by die departement van binnelandse sake aangemeld en hulle sou met die SAPD saamwerk om toe te sien dat die betrokke buitelanders in hegtenis geneem word wanneer hulle terugkeer.

Hierdie inligting is egter aan die betrokke verdagtes gelek, na bewering deur ’n senior lid van die Drakenstein-verkeersafdeling, en die mense het nie vir hul afsprake opgedaag nie.

’n Ander bekommernis wat uitgespreek word, is dat mense in poste aangestel word en nie oor die nodige kwalifikasies beskik nie.

Een so ’n voorval is waar ’n skoonmaker oor ander kandidate voorkeur geniet het om in ’n administratiewe pos aangestel te word.

Kandidate vir hierdie spesifieke pos moes ’n matrieksertifikaat hê asook oor sekere rekenaarvaardighede beskik.

Die skoonmaker het nie hieraan voldoen nie, maar is wel in die pos aangestel.

Die munisipaliteit het by navraag hieroor gesê ’n proses is ’n tydjie gelede begin om personeel te “optimise” sodat hulle hul vaardighede optimaal kan benut, meer ondervinding kan opdoen, en sodoende hul loopbane kan verryk.

As deel van hierdie vaardigheidsuitbreidingsproses is ’n klerk sonder ’n matrieksertifikaat tydelik by die toetssentrum aangestel met die duidelike voorwaarde dat sy haar matriek binne 12 maande moet bekom.

“Hierdie geleenthede word van tyd tot tyd aan veral ons algemene werkers gebied sodat hulle tot ’n volgende vlak kan vorder.”. It seems as if corrupt transactions are regularly taking place at the Dal Josafat Test Centre.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article