Groot eer vir plaaslike sakevroue van die Kaapse Wynland

Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue
Die vroue van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue se Kaapse Wynland-tak.

Groot eer vir plaaslike sakevroue van die Kaapse Wynland


Drie plaaslike sakevroue was onder diegene wat by vanjaar se jaarlikse toekenningsgeleentheid van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue (SACBW) vereer is.

Die geleentheid het Saterdag (24 Oktober) in Mosselbaai plaasgevind. Anetta Barnes-Mangxaba is aangewys as Entrepreneur van die Jaar 2026, Celeste Klem as naaswenner vir Sakevrou van die Jaar 2026, en die SACBW Kaapse Wynlande is aangewys as naaswenner in die kategorie vir Tak van die Jaar. Die Kaapse Wynlande-tak word deur Razine Adams gelei.

Barnes-Mangxaba, stigter en uitvoerende hoof van Dizindaba Media, het die onderneming in Februarie 2010 saam met haar oorlede man, Edward, begin nadat hulle albei werkloos was.

Die onderneming het ontstaan uit die behoefte aan Xhosa-gemeenskapsmedia wat nuus en inligting in die taal aan Xhosa-sprekende gemeenskappe in die Wes-Kaap kon verskaf. Die publikasie, Dizindaba Iphephandaba lesiXhosa, gebruik vandag sowel gedrukte as digitale media om gemeenskappe se stories, uitdagings en prestasies uit te lig.

Harde werk en opoffering

“Dit is vir my ‘n groot eer om hierdie erkenning van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue te ontvang. Dit is vir my meer as net ‘n toekenning; dit is ‘n bevestiging van die jare se harde werk, opoffering en deursettingsvermoë wat dit geverg het om my onderneming te bou,” sê sy.

“Om vandag, 16 jaar later, steeds te publiseer en hierdie erkenning as entrepreneur te ontvang, is vir my baie betekenisvol. Ek hoop ook dat my verhaal ander vroue sal inspireer om nie toe te laat dat moeilike omstandighede hul drome bepaal nie.”

Benewens haar werk in gemeenskapsmedia dien Barnes-Mangxaba as voorsitter van die Association of Independent Publishers (AIP) in Suid-Afrika en as medevoorsitter van die Digital News Transformation Fund (DNTF). Sy is ook betrokke by vrouebemagtiging en gemeenskapsontwikkeling.

Haar raad aan ander vroue is om nie te wag totdat omstandighede ideaal is voordat hulle hul planne begin uitvoer nie.

“My boodskap aan vroue is: Moenie wag totdat alles perfek is voordat jy begin nie. Begin met wat jy het, waar jy is, en gebruik die kennis, vaardighede en geleenthede tot jou beskikking.”

Klem, ‘n mede hoteleienaar, direkteur en bestuurder van die Paarl, het 22 jaar ervaring in hotelbestuur. Sy is betrokke by Hotel du Vin in Franschhoek en Café du Vin en beywer haar ook vir vrouebemagtiging deur haar betrokkenheid by die SACBW.

Vir haar lê die betekenis van die toekenning nie net in persoonlike erkenning nie, maar ook in die geleentheid om ander vroue aan te moedig.

LEES OOK: Paarl-sakevroue ontvang erkenning vir uitnemendheid

“Dit is vir my ’n ongelooflike eer om as die naaswenner van Suid-Afrika se Sakevrou van die Jaar 2026 aangewys te word.

“Ek is dankbaar teenoor die Here vir die geleenthede wat oor my pad gekom het, en teenoor elke persoon wat in my geglo en my ondersteun het. Hierdie erkenning is nie net myne nie; dit verteenwoordig ook die mense saam met wie ek werk en die vroue saam met wie ek ’n verskil probeer maak.

“Vir my is die grootste waarde van hierdie toekenning die platform wat dit skep om ander vroue te inspireer.”

Klem sê vroue moet hul potensiaal raaksien, ongeag hul huidige omstandighede of wat ander mense van hulle dink.

“My boodskap aan vroue is eenvoudig: Moenie toelaat dat jou huidige omstandighede, jou verlede of ander mense se opinies jou potensiaal bepaal nie. Jou stem, jou idees en jou drome het waarde. Soms moet jy die eerste stap neem voordat jy die hele pad kan sien. Ek glo dat ware sukses nie net gemeet word aan die toekennings wat jy ontvang of die titels agter jou naam nie, maar aan die lewens wat jy aanraak en die geleenthede wat jy vir ander skep.”

Leierskap ‘n groot eer

Adams, eienaar en direkteur van Adams Prokureurs in die Paarl, lei die SACBW se Kaapse Wynlande-tak. Sy het haar eie regsfirma reeds 12 jaar lank en doen werk in die gemeenskap om mense van hul regte bewus te maak.

Sy beklee verskeie ander leierskap- en gemeenskapsrolle, onder meer as voorsitter van KC 107.7 en ‘n komiteelid van Kindersorg Suid-Afrika.

Die Kaapse Wynlande-tak, wat drie jaar gelede gestig is, bring vroue uit formele en informele ondernemings in die gemeenskap bymekaar. Adams sê die nasionale erkenning is die resultaat van die lede se gesamentlike pogings.

“Die toekenning is vir ons tak, al ons lede se harde werk, toewyding en die vermoë om vroue in die sakewêreld aan te vul en te ondersteun. Ons gee alle eer aan ons Vader vir die seën oor ons tak.”

Adams sê sy is trots op die erkenning en op die geleentheid om die tak te lei.

“Enige sakevrou, formeel en informeel, kan aansluit by ons tak en deel raak van die ongelooflike ‘sisterhood‘. Dit is nooit te laat om te begin nie. Elke vrou het die vermoë om haar eie toekoms te bepaal en ons is hier om hulle te ondersteun.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article