Die groepuitstalling, Grond, met Cobus van Bosch en prof. Estelle Marais word Saterdag 26 Februarie om 11:00 by die Breytenbach-sentrum in Wellington se galery geopen.
Die openingspreker is Kabous Meiring.
Die kwessie van grond was nog altyd ’n tameletjie in Suid-Afrika. Volgens prof. Ampie Coetzee se boek, ’n Hele os vir ’n ou broodmes, het die kwessie rakende grond reeds in die dae van Jan van Riebeeck begin, soos opgeteken in sy dagboeke. Vandaar dus die inspirasie vir die tema.
Volgens Cobus van Bosch is sy skilderye meesal nabyskote van mense se gesigte en nie noodwendig portrette van individue nie. Hy sien hulle eerder as uitdrukkings van die menslike kondisie. Cobus sê daar is emosionele lading wat gelees kan word teen die vervreemde invloede en nagevolge van die werklikhede van ons eietydse bestaan.
Prof. Estelle Marais het gaan kyk na die betekenis van die woord grond. Komende van ’n plaas-agtergrond, het sy tot die slotsom gekom dat daar ’n verskil is tussen die woorde plaas en grond. Grond is vir haar ’n abstraksie, ’n ruimte waarop mens, dier en plant nie sy merk gelaat het nie. Teenoor die woord plaas, dit wat lei tot oorloë en onmin; die iets wat die mens begeer om te besit.
Deur haar skilderye het sy gepoog om die ware gevoel van grond weer te gee, die onaangeraaktheid, die siel van die konkrete oer-eenheid.
Die uitstalling duur tot 7 April.
. Vanaf 14 tot 17 Maart word ’n meesterklas met die tema Landskap-werksessie deur prof. Estelle Marais aangebied by die Breytenbach-galery aangebied.
Kostes vir die vierdag-werksessie is R4 000 per persoon en sluit verblyf, etes en tee en koffie in. Bespreek by 083 415 0002 of by galery@breytenbachsentrum.co.za.




