Die Wes-Kaapse departement van landbou het saam met leerders en onderwysers van die Noorder- Paarl Hoërskool ’n groentetuin by die skool gemaak ter viering van Mandelamaand. Agter van links is Reesher Kearns, Olwethu Titana, Emerancia Horne, Roland Julies, Douglas Chitepo, Vusumzi Zwelendaba, Gaylin Buziek, Marilyn Solomons en Benjamin September. Voor sit Garnett Prins, Adwill Nel, Carmen Warries en Lauren Roodman.Foto: Chantélle Hartebeest


Die omgewingsklub van die Noorder-Paarl Hoërskool het verlede Woensdag ’n groentetuin by die skool aangelê waarvan die leerders binnekort self van die oes sal geniet.

Die tuin is verlede Woensdag (13 Julie) aangebring ter viering van Mandelamaand met die hulp van die Wes-Kaapse departement landbou en Casidra, ’n afdeling van dieselfde departement.

Leerders, onderwysers en amptenare van die departement was self betrokke by die skoffel van die grond en die plant van die verskeie saailinge.

Douglas Chitepo, ’n direkteur by die Wes-Kaapse departement landbou, sê die departement en die skool eer wyle pres. Nelson Mandela se nalatenskap deur hul vennootskap.

“Die boodskap hier [vandag] gaan oor hoe ons bewustheid oor voedselsekuriteit op skoolvlak skep en ook om te verseker dat daar volhoubaarheid is en om ’n kultuur in te skerp waar ons bewustheid skep vir gemeenskappe se skoolkinders om vir hul eie te produseer en om te verseker ons moedig ’n soort voedsame voedsel- aksie op voetsoolvlak aan.

“Ons is baie bly dat ons hierdie vennootskap kan hê met ’n skool soos hierdie wat lewenswetenskap as deel van hul kurrikulum het. Die skool het ’n omgewingsklub waar kinders aangemoedig word om deel van die natuur te wees, en hierdie val soort van binne daardie spektrum en dit word ook deel van die praktiese sessies vir daardie leerders.”

In die tuin is verskeie groentes geplant wat onder meer spinasie, wortels, sprietuie en kool insluit. Die gr. 8-leerders Lauren Roodman en Carmen Warries het ook hand bygesit by die groentetuin. Albei meisies is ook betrokke by die skool se omgewingsklub en is baie bly oor die nuwe groentetuin by hul skool.

“Ek voel bly om deel te wees van hierdie projek, want nou weet ek dat ek die skool kan help en dat die skool weet ek is hier om ook ’n diens te lewer, nie net as student nie, maar ook as gemeenskapspersoon. Ek voel ook bly dat die skool voedselsekerheid deur hierdie tuin bevorder en dat ek weet daar is mense wat ons skool ondersteun – nie net die onderwysers en die skoolhoof nie, maar daar is ander mense soos die departement,” sê Lauren.

Carmen op haar beurt deel dieselfde sentimente as haar mede-leerder. Sy kan nie wag om saam met die res van hul klub die groente te oes nie. “Ek sien uit om die groente te geniet saam met ander leerders, want dit is lekker om te plant en ek wil sien hoe groei die plante en hoe help dit die skool. Solank ons plante het, kan ons lewe.”

Die omsien na die groentetuin sal voortgesit word onder die leiding van juffrou Marilyn Solomons. Sy is ’n lewenswetenskappe-onderwyser by die skool, en ook die departementshoof vir die vak. Solomons, wat ook betrokke is by die skool se omgewingsklub, het gehelp om die groentetuinprogram aan die gang te sit.

“Ek is ook betrokke by die omgewingsklub en daarom het ek die leerders van die klub en dié wat lewenswetenskappe as ’n vak neem, betrek om die tuin aan die gang te kry. Dit beteken ontsettend baie dat die leerders betrokke is by die groentetuin, want hulle gaan soveel waardes hieruit leer. Hulle leer oor die belangrikheid van voedselseku­riteit, hulle leer ook hoe om plante te plant en oor die voedingswaarde van die grond. So, die tuin het baie opvoedingswaarde vir die leerders self. Hulle kan sien dat hulle ook ’n loopbaan hiervan kan maak.”

Solomons voeg by wanneer die groente gereed is, sal dit geoes en in die skool se kombuis gebruik word.

“Ons sal dit ook aan die gemeenskap kan verkoop en daardeur ook ’n inkomste vir die skool opwek, en ons sal ook die gemeenskap kan oplei oor hoe om vir hulself ook voedseltuine te maak.” . The environmental club of Noorder Paarl High School laid out a vegetable garden at the school last Wednesday, whose learners will soon enjoy the harvest themselves.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article