Tayla Fisher (12) het van ’n kind wat in haar ma se groentetuin gespeel het, in ’n jong entrepreneur ontaard.


Talle glo dat Suid-Afrika se vooruitgang in die hande van entrepreneurs lê. Hoeveel beter sal dit nie wees as ’n mens al van kindsbeen af jou eie drome skep nie?

Tayla Fisher (12) is vinnig op pad om hiervan te getuig aangesien sy in 2021 haar eie plant-onderneming, Tayla’s Seedlings, begin het.

Dié jong entrepreneur is in graad 7 by Hugenote Laerskool en het Paarl Post vertel van haar ouers se motivering om vir haar eie drome te werk.

“Ek het vir my ma-hulle gesê ek wil graag ’n rekenaar besit en my pa sê toe dat ek vir my geld moet werk,” onthou sy.

“Twee dae later was ons in ons tuin besig en ek kry die idee om plantjies te verkoop. My pa, Kieryhan, sê toe dis reg en ons het klein begin en die onderneming met R200 van stapel gestuur.”

Tayla het haar groen vingers tot haar voordeel gebruik en kort voor lank het ’n Wellington-inwoner vir haar ’n skenking gegee.

“Ek het niks daarvan vir myself gevat nie, en het dit net so terug in my onderneming gesit om ’n akwaponiese-stelsel te bou. My pa het dit vir my in Desember gebou.”

Só ’n stelsel, verduidelik Tayla, behels ’n vistenk met PVC-pype waarin gatjies gemaak is waar die plantjies in koppies gesaai kan word. Die koppies het ook gatjies waardeur die water kan beweeg en die vistenk is vol goudvisse.

“Ek het ook ’n hidroponiese-stelsel wat min of meer dieselfde werk. Albei stelsels werk optimaal spaarsamig met water en alles het net nie meer as ’n R1 000 gekos om op te rig nie.”

Kieryhan werk as ’n bouer in die Boland en het sy dogter alles geleer van die stelsels. Hy het haar ook geleer om dit te laat installeer.

Sy het al meer as 130 akwaponiese-plantjies, terwyl haar hidroponiese-plantjies amper nie eens meer telbaar is nie.

Waar kom die liefde vir plante vandaan?

“Ek het in kruie en plante begin belangstel toe my ma, Bronwyn, by ons vorige huis ’n groentetuin aangeplant het. Toe ek kleiner was het ek baie daarvan gehou om in die tuin te speel.

“Dit het ’n besondere positiewe uitwerking op ’n mens om jou plantjies van sade af te sien groei tot ’n stadium waar jy groente kan oes.”

Haar sakemodel is gegrond om groente- en kruie-saailinge te produseer, aan kliënte te verskaf en sodoende ander se groentetuine ’n effense voorsprong te bied.

“Ek het redelik baie kliënte wat nogal gereeld by my koop. Ek groei tamaties, gewone en gekleurde spinasie, broccoli, botterskorsies, lemoenpampoentjies, boontjies, blaarslaai, beet, komkommer, sowel as spek- en olyfbome.”

Tayla glo vas dat alle kinders daardeur sal baat om meer met die aarde in aanraking te kom.

“Sodra jy met die grond en die groen plante werk, is daar ’n natuurlike liefde vir die aarde wat broei. Ek glo dit help om meer omgewingsbewustheid te skep en so ook die natuur op te pas.”

Alhoewel sy nog ver het om te gaan voor sy haar eie rekenaar kan bekostig, is die ervaring wat sy in die tussentyd verwerf, die moeite werd.

“Ek wil graag eendag my eie kwekery bedryf, wat my hopelik sal ondersteun in my wens om ’n mediese student te wees. My ander stokperdjie is om wiskundeprobleme op te los.”

Nie net het Tayla groen vingers nie, maar sy het ’n hart van goud en ’n blink toekoms wat vir haar wag.

Besoek gerus haar Facebook-blad, Tayla’s Seedlings, vir meer inligting of bel haar by 078 791 5907 om jou bestellings te plaas.

. Working toward her desires and a fruitful future, Tayla Fisher believes that the lessons she’s garnered from her parents and their veggie garden will pay toward her dreams.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article