Die 58-jarige Douglas Green het onlangs met ’n breë glimlag teruggekeer van Engeland nadat hy vierde plek behaal het in ’n internasionale liggaamsbou-kompetisie.
Green het Suid-Afrika verteenwoordig by die International Natural Bodybuilding Association en die Professional Natural Body Building Association se wêreldkampioenskap in die afdeling Grand Masters Classic. Dit was nie die eerste keer dat hy sy spiere bult in SA kleure nie, maar wel die eerste keer dat hy SA oorsee verteenwoordig het.
Green werk tans as ’n sekuriteitsbeampte by die Drakenstein-munisipaliteit.
Volgens Green was hy jare gelede ’n passievolle rugbyspeler, maar toe hy sy rugby-stewels ophang, het hy kort daarna sy nuwe liefde ontdek.
“Ek het steeds in die gym geoefen en sowat 31 jaar gelede het ek op ’n dag besluit om na ’n liggaamsbou-kompetisie in Bellville te gaan, net om te gaan kyk. Ek het daar gekom en besluit om deel te neem. Ek het toe tweede geëindig en daarna het ek besluit om hierdie nuwe passie te volg.”
Volgens Green is om elke dag in die gimnasium te oefen en fiks te wees deel van wie hy is.
“Ek bou eers my liggaam op en wanneer ek gaan deelneem aan ’n kompetisie breek ek af soos nodig, vertel Green oor hoe hy sy liggaam gereed kry vir kompetisies.
“Voor ’n kompetisie doen ek net kardio en oefeninge met ligte gewigte.”
Green eet ook voor kompetisies slegs sekere kosse, wat insluit baie groente en water.
Vir Green was sy reis na Engeland ’n ervaring wat hy nie sommer sal vergeet nie.
“Dit was ’n lekker ervaring en ek het baie daar geleer. Ek het aanvanklik nie eers geweet ek het vierde plek gewen nie, maar ek is baie bly daaroor. Dit is ’n lekker gevoel en my familie is baie opgemaak.”
Hy vertel dat hy nog nooit ’n persoonlike afrigter gehad het nie en maar homself afgerig het en hy meen dat wanneer hy die dag nie meer aan kompetisies deelneem nie en afgetree is, sal hy graag jeugdiges wat ook liggaamsbou wil beoefen, wil afrig.
Green sê egter dat hy nou hoop en vertrou dat hy borge sal kan kry om nog ’n droom ’n werklikheid te kan maak wanneer hy die geleentheid kry om aan die Olimpiese Spele vir liggaamsbou in Frankryk in November vanjaar deel te neem.
Oor tot wanneer hy dink hy nog aan liggaamsbou-kompetisies gaan deelneem, sê hy met groot opgewondenheid: “Ek gaan nog tot 70 jaar oud deelneem, ja-ja, ek is nog fiks! Ek geniet dit, dit hou my jonk.”





