Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die provinsiale minister van mobiliteit, Ricardo Mackenzie, het die Wes-Kaapse regering se Getting YOU to Work–projekamptelik van stapel gestuur – ’n nuwe inisiatief wat werksoekers gratis vervoer na onderhoude met behulp van Golden Arrow Bus Services (GABS) bied.
Dié vervoer vir werksoekers word in vennootskap met die private sektor aangebied om probleme met vervoer uit die weg te ruim en toegang tot werksgeleenthede vir werksoekers moontlik te maak.
Dié gratis rit word vir onderhoude met kandidate deur geregistreerde werkgewers aangebied.
Die koopbewyse vir so ’n rit kan op weeksdae van 08:00 tot 16:00 op enige GABS-bus gebruik word.
Tydens die bekendstelling het Winde en Mackenzie by die heel eerste werksoekers aangesluit om van die Getting YOU to Work-koopbewys gebruik te maak, aangesien die werksoekers ’n onderhoud in Athlone gehad het.
Een van die kandidate, Latita Memani, ’n 20-jarige student van Kaapstad, sê sy “het dit reggekry om vandag by die onderhoud uit te kom sonder om geld uit te gee” en sonder om geld by haar ouers te leen.
“Hierdie werksoekerbewys is ’n baie goeie idee wat baie jongmense sal help om werk te kry, onafhanklik te word en suksesvol in die lewe te wees,” sê Memani.
Winde het die belangrikheid van hierdie projek beklemtoon.
“Om jou aan die werk te kry is deel van die Wes-Kaapse regering se Growth 4 Jobs-strategie. Ons doen alles in ons vermoë om die ekonomie te laat groei, werk te skep en werkloosheid aan te pak, wat tans op 20% staan.
“Ons het met mense gepraat wat nie werk het nie sodat ons die uitdagings verstaan wat hulle in die gesig staar en waar die provinsiale regering hulle kan ondersteun,” sê hy.
“Een van die grootste struikelblokke wat aangemeld is, is die koste van vervoer – veral vir diegene wat ver weg van ekonomiese spilpunte woon.
“Ek is verheug dat hierdie inisiatief tasbare ondersteuning sal bied aan die baie mense wat aktief werk soek. Ek moedig entrepreneurs en sakeondernemings aan om te registreer om ’n deelnemende werkgewer te word. Deur die reisbewys aan werksoekers beskikbaar te stel, kan werkgewers kies uit die heel beste kandidate wat die Wes-Kaap kan bied,” sê Winde.
“Werklose werksoekers het eenvoudig nie geld vir vervoer nie, wat dit ’n groot stryd maak om werk te soek en onderhoude by te woon,” sê Mackenzie.
“Die gratis reisbewys wat ons vandag bekendgestel het, verwyder hierdie aanvanklike hindernis, met 12 gratis reise wat by die koopbewys ingesluit is en wat werksoekers help om die werk te vind wat hulle so broodnodig het.”
Getting YOU to Work
is in Kaapstad van stapel gestuur en is beskikbaar vir werksoekers wat ’n onderhoud met ’n deelnemende werkgewer verkry het.
Werkgewers wat graag wil aanmeld om deel te neem, kan op die aanlynportaal registreer of die webwerf vir meer inligting besoek.
. Skakel 0800 65 64 63 (tolvry) of besoek die GABS-webwerf by www.gabs.co.za vir inligting oor GABS-roetes en hoe om van die diens gebruik te maak.
?





