– deur Retief Loubser
(OKB-student 1990-1993)
’n Treinrit in ’n sabbatsjaar
het ’n leemte gevul, ’n droom bewaar.
Selfs in die wye oseaan
kon jou balke nie vergaan.
Kwaadwillige student met petrol en lont
wou jou afbrand tot op die grond.
Verstikkende bondels swartgrys rook
deur dansende oproeriges aangestook.
Eekhorings waak nou oor die skaamte
van jou daklose, gestroopte geraamte.
Vanuit die roet en puin en pyn
het ’n feniks van memories verskyn:
Sirenes eggo dekades van lag,
trane van blydskap op ’n bruilofsdag.
Hemelse klanke uit klawers gewoel
and even the orchestra is beautiful.*
Mag hul jou glorie in ere herstel
dat jy nog vele verhale vertel.




