Jarque Jacobs is onlangs verkies is as die nuwe voorsitter van die Wellington-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).Foto: Rasaad Adams


Jarque Jacobs, ’n boorling van Wellington wat onlangs tot voorsitter van dié dorp se gemeenskaps­polisiëringsforum (GPF) verkies is, sê ’n groot deel van sy visie vir hierdie termyn is om meer programme en geleenthede vir jongmense te skep, wat hy glo uiteindelik tot ’n daling in misdaad sal lei.

Paarl Post het vandeesweek met Jacobs gesels om te hoor hoe hy die rol van die GPF sal beskryf en in watter rigting hy graag Wellington wil vat wat misdaadbekamping betref.

Die rol en belangrikheid van hierdie liggaam moet glad nie onderskat word nie. Ons dien as die skakel tussen die polisie en die gemeenskap. Ons is ’n mondstuk vir al twee partye.

Jabobs het die GPF bestempel as ’n kritieke komponent in die ketting wat die polisie en die gemeenskap aanmekaar hou.

“Die rol en belangrikheid van hierdie liggaam moet glad nie onderskat word nie. Ons dien as die skakel tussen die polisie en die gemeenskap. Ons is ’n mondstuk vir al twee partye.

“In ’n land waarin reeds in die algemeen ’n verhouding van wantroue tussen die polisie en gemeenskappe heers, is dit ons mandaat om in te tree en daardie gaping te vul,” het hy verduidelik.

Jacobs sê die Wellington-GPF is in voeling met beide die polisie én die gemeenskap se uitdagings.Foto: Rasaad Adams

Hy sê die Wellington-GPF is in voeling met die uitdagings wat deur die polisie sowel as die inwoners van die dorp ervaar word.

“Dit is belangrik om te erken dat ons die afgelope tyd ’n toename in geweld­dadige misdaad ervaar. Dit word in die meeste gevalle deur jongmense gepleeg.

“As jy mooi gaan kyk na die oorsprong van hierdie geweld, sal jy sien dit het alles begin by klipgooiery deur die jeug –nie te lank terug nie. Hierdie klippe het toe later vuurwapens geword, wat ons steeds nie weet waar dit vandaan kom nie. Die werklikheid is dat hier eenvoudig nie genoeg geleenthede vir die jeug is nie. Ons moet ons kinders met die regte goed besig hou en hulle op daardie wyse van die straat af kry.”

Volgens Jacobs beskou hy sedert sy kinderdae sport as ’n manier vir jongmense om van die harde werklikhede van die samelewing te ontsnap.

“Toe ek op skool was, was ek die een wat weer sokker relevant gemaak het. Ons skool het in daardie stadium nie so baie in hierdie soort sportsoorte belê nie. Ek het egter besef hoe wonderlik dit is om deel te wees van ’n span; om deel te wees van iets groter as jouself. Ons het sokker so lekker gemaak dat selfs die skollies van daai tyd saamgespeel het. Ek dink my lewe as aktivis het daar reeds begin, en ek sal graag wil hê dat ons as ’n GPF ons jeug op soortgelyke wyse mobiliseer.”

Hy sê hy wil graag sien dat die GPF inwoners aanspoor om weer van hul woonbuurte eienaarskap te neem.

“Dit is daardie ‘my kind is jou kind’- beginsel. Ons moet vir mekaar en vir ons kinders begin uitkyk. Ons moet praat oor die goed wat ons pla en nie bang wees om teen misdadigers op te staan nie.”

Hy sê hy probeer om maandelikse optredes saam met die polisie uit te voer sodat hy eerstehands kan ervaar voor watter uitdagings polisiebeamptes te staan kom.

Jacobs wil tydens sy termyn graag meer geleenthede vir die jongmense van Wellington skep en hulle só van die straat af kry.Foto: Rasaad Adams

Jacobs het sy laerskoolloopbaan by Wellington Primêr voltooi en daarna aan die Hoërskool Weltevrede in Wellington gematrikuleer. Hy het ná skool aanvanklik onderwys aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer, maar toe besluit hy wil eerder die sakewêreld betree.

Ná bykans 10 jaar in die farmaseutiese bedryf het hy besluit om vir ’n diploma in finansiële bestuur by Boland College in die Paarl te studeer, wat hy onlangs verwerf het. Jacobs is ’n lid van die Kerk van God-gemeente in Wellington waar hy ook as die kerk se tesourier dien.

. Wellington’s Community Policing Forum chairman tells of the challenges of fighting crime in Wellington.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article