Wintermaande bring meer uitdagings vir die bestuur van die gebied as ander tye.
Die vallei is veral die afgelope winter behoorlik deur swaar neerslae gepeper, wat daarmee saam sy eie uitdagings gebring het – onder meer skade aan infrastruktuur.
Veral die gemeenskap van Gouda voel dat hulle uitgesluit word wanneer dit kom by dienslewering in die Drakenstein.
Hulle kla juis onder meer dat hul paaie al hoe meer ontoeganklik raak en dat rommel in hul dorp ophoop.
Louis Pienaar, direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, erken dat die instandhouding van grondpaaie gedurende die wintermaande deur die reënseisoen bemoeilik word.
Hy sê volgens die munisipaliteit se paaie-afdeling se onderhoudsplan word al die grondpaaie in Drakenstein se dorpe twee keer per jaar geskraap.
Tans word beplan om vroeg in September 2023 weer na Hermon, Gouda en Saron te gaan, sou die weersomstandighede dit toelaat.
Intussen word algemene onderhoudswerk gedoen om die ryvlak te verbeter.
. Inwoners kan slaggate aanmeld deur die SeeClickFix-toepassing; per e-pos na customercare@ drakenstein.gov.za of ’n oproep na die tolvrye nommer by 080 131 3553.
Pienaar sê die onwettige storting van vullis bly een van die munisipaliteit se grootste uitdagings en hy doen ’n beroep op al die inwoners om ook ’n rol te vervul deur onwettige storting van vullis aan te meld deur foto’s van voertuie of ander bewyse aan die munisipaliteit by customercare@drakenstein.gov.za te stuur.





